Erongo


Kontak Ons

Ons Argiewe

25.08.10

Skaduwêreld ontbloot

23.08.10

Ongeluk eis bekende

23.08.10

Nujoma: Vat die grond

24.08.10

Tragedie in sjebeen

17.06.2009

See word dorsland se dam

’n TEGNOLOGIESE deurbraak deur ’n Suid-Afrikaanse maatskappy kan die woestyn se dors les. Ontsoute seewater vir menslike gebruik teen net N$4,80 per kubieke meter gryp die verbeelding aan.

Dit staan in skrille kontras teenoor ’n beweerde prys van N$12,50 per kubieke meter vir ontsoute seewater met bestaande tegnieke. Die basiese strukture vir sodanige nuwerwetse aanlegte is piepklein teenoor die seemonster wat by Wlotzkasbaken die uraanbedryf se waterbron moet word.

Die aanvanklike besteding vir sodanige aanlegte is ook ’n skrale persentasie van die miljarde wat tot nou toe vir ontsouting aangewend is.

’n Onopsigtelike basis van net drie vraghouers van 12 meter elk word benodig vir enkele groterige dorp. Die nuwe tegnieke is reeds bewys met waterverskaffing aan Singapoer.

Internasionale toekennings het op die ontwerpers gereën na die welslae wat in Singapoer behaal is en waar die Suid-Afrikaanse maatskappy GrahamTek Systems van Wes-Kaapland ook nou in GrahamTek Singapore gevestig is. As internasionale groep word nou op die verskaffing van skoon water vir die mensdom gekonsentreer.

Kantore is ook in Wes-Australië en die Verenigde Arabiese Emirate gevestig. Benewens seewaterontsouting en die suiwering van rioolwater verskaf die onderneming ook’n suiweringsdiens op wildplase, hotelle, herberge en private plase waar water beskikbaar is, maar dit nie geskik vir menslike gebruik is nie.

GrahamTek konsentreer sedert 1998 op die lewering van water met omgewingsvriendelike prosesse. Chemikalië word nie gebruik nie en in die ganse proses word op die besparing van krag gekonsentreer.

Die moontlikhede wat GrahamTek vir ’n dorstige Namibië bied het posgevat toe die maatskappy deur die Walvisbaaise munisipaliteit aangesê is om ’n loodsaanleg vir die suiwering van rioolwater by die uitvalwerke te bou.

Die aanleg het gevorder tot ’n stadium waar genooides self sal kan kom proe. Die gesuiwerde rioolwater se prys per kubieke meter is minder as die van halfgesuiwerde rioolwater wat reeds deur die Walvisbaaise nywerheid en vir tuinerye gebruik word – N$2,55 teenoor N$3,30.

’n Aanleg van een miljoen kubieke meter ontsoute seewater per jaar, sal genoeg wees om Walvisbaai as bystandbron deur krisistye te dra. Kleiner aanlegte kan plekke soos Swakopmund, Hentiesbaai en selfs Wlotzkasbaken en Langstrand bedien.

Die welslae wat reeds op Walvisbaai met die toetsaanleg by die riooluitvalwerke behaal is, het reeds gelei tot afsprake met onder andere verteenwoordigers van NamWater vir die lewering van suiwer water uit rioolaanlegte soos die van Windhoek.