24.07.2008
Rugbyinval kom uit Engeland
EEN van die grootste sporttoergroepe uit ‘n enkele land gaan op 31 Julie op Swakopmund aankom vir ‘n verblyf van vyf dae. Die rugbystormloop kom van die dorp Ealing in Engeland en 152 geesdriftiges gaan hier verwelkom word. Meer ouers en geesdriftiges kom as die sowat sestig spelers in vier van Ealing se onder 16-spanne.
Die toergroep gaan sowat twee weke in Namibië deurbring. Hul toer begin op Swakopmund waarna op 4 Augustus na Windhoek vertrek gaan word. Die kontingent uit Engeland sal op 12 Augustus na Ealing terugkeer. Tydens hul verblyf langs die sentrale kusgebied sal wedstryde waarskynlik op Walvisbaai teen onder 16-spanne gespeel word. Op Swakopmund sal ‘n oefensessie op 1 Augustus vanaf 13:30 tot om 15:45 duur.
Vir die groep sal daar baie vryetydbesteding in Namibië wees. Vanaf Swakopmund sal ‘n uitstappie na die maanlandskap onderneem word waar ‘n feesmaal voorgesit gaan word, die bekende Marimbas gaan optree en daar sal ‘n vertoning deur vuurdansers wees. In Windhoek sal ‘n soortgelyke feesmaaltyd in Joe’s Beer House gehou word.