17.5.2012
 Argiewe:

Erongo


Tuisblad-argief

15.05.12

Tuisblad van 15 Apr '12

14.05.12

Tuisblad van 14 Apr '12

11.05.12

Tuisblad van 11 Apr '12

10.05.12

Tuisblad van 10 Apr '12

09.05.12

Tuisblad van 09 Apr '12

27.08.2010

Rössing beur uit sy nate

NAMIBIË se uraanbaanbreker het ook aangetree vir die opspraakwekkende wedloop in die Namib. Rössing gaan sy bestaande grootste oopgroef in die wêreld dieper en wyer delf en nuwe loogprosesse gaan op die wande gevolg word om produksie te verhoog. Die ou grote mik nie net na ’n winsgewende mynleeftyd tot in 2023 nie, maar tot selfs ná die 13 jaar.

’n Rewolusie by die myn gaan die inskakeling van looghope word bo en behalwe die bestaande gebruik van loogtenks vir uraanproduksie. Terwyl nuwelinge in die stormloop week ná week bevindings en skattings aankondig, het Rössing se uitbreidingsproses reeds in 2008 begin en deur die moeilike resessiejare gevorder tot waar ’n verslag oor die maatskaplike en omgewingstrefkrag van ’n groter Rössing nog voor die einde van die jaar gaan verskyn.

’n Studiestuk oor die bevindinge van ’n ondersoekspan van deskundiges op vele gebiede is pas op Swakopmund vrygestel. Die opnemers is Aurecon (voorheen Ninham Shand) en ’n kenmerk van die studiestuk is oor hoe elke moontlike struikelblok met volle eerlikheid uitgesnuffel is en aangespreek word. Die laaste van reekse raadplegende vergaderings is twee byeenkomste wat vandeesweek met belanghebbende groepe en mense op Swakopmund en Arandis gehou word. In die soektog na ’n groter Rössing het bore in die gebied om die bestaande oop groef gedelf om die totale uraanvoorkoms in Rössing se lisensiegebied te probeer bepaal. Dit gaan aanleiding gee tot ’n oop myn tot ’n diepte van vier honderd meter teenoor die huidige 300 meter. Groter mynhope gaan vir afvalrots kom en die uitskotgebied gaan vergroot word.

Die koms van die looghope verskil van die huidige loogtenks in die proses waarin uraan uit die rots verhaal word. Dit gaan meebring dat uraandraende erts minder vergruis gaan word voordat dit op die hope gestort gaan word. Vir die skeiding van die uraan gaan suur deur die hope filtreer word. Die looghope kan kostebesparend teenoor die loogtenks wees. Saam met die loogtenks gaan dit tot ’n hoër uraanproduksie by die myn bydra.

Nuwe tegnieke is gevolg in die studieveld wat nou oorgesteek word. Dit was nie meer net openbare vergaderings in raadsale nie. Plekke is in die mynveld besoek en byeenkomste is met spesifieke groepe gehou. Toervertonings is op verskillende plekke gehou en nou is daar ook die vergaderings met die gemeenskappe van Arandis en Swakopmund.

Wanneer die finale Aurecon-verslag voor die einde van die jaar gaan dien, sal Rössing by die Ministerie van die Omgewing en Toerisme aansoek doen vir goedkeuring van die uitbreiding. Wanneer die goedkeuring verkry is, sal Rössing Rio Tinto as sy moedermaatskappy (69 persent van die aandeelhouding) vra om met die ontwerp te mag voortgaan.

In die aankondiging beken Aurecon dat die studieveld reeds in 2008 betree is, maar dat dit as gevolg van die internasionale resessietoestande ’n lang pad geword het. Verlede jaar en vanjaar is egter met die ondersoek voortgegaan.

Die studievelde het onder meer oor die kwaliteit van lug, water, bestraling, maatskaplike en ekonomiese gevolge, verkeer, geraas, vibrasie as gevolg van ontploffings, argeologiese erflatings, die voorkoms van die landskap en die plantegroei van die Namib gehandel. Modelle is selfs gebruik in die studies oor watergehalte en lugsuiwerheid.

Die Rössingmyn bestaan reeds 34 jaar. Dit is die wêreld se derde grootste uraanmyn. In 2009 het Rössing 54,5 miljoen ton erts gemyn en 4 150 ton uraanoksied aan die wêreldmark gelewer. Dit het van 2009 op die gebied van produksie ’n jaar van voorspoed gemaak. Volgens die jongste beskikbare syfer is Rössing ’n werkgewer aan 1 415 mense.