23.07.2008

Renoster vrek in die Erongo's

EEN van die swartrenosterkoeie het gevrek pas nadat ‘n troppie in die bergbewaringsgebied van die Erongo’s geplaas is. Veldwagters het drie weke ná die koms van die logge diere vasgestel dat die koei gevrek het. ‘n Veearts is gelas om ondersoek in te stel en sy bevinding was dat die koei ver dragtig was en ook deur stres tydens haar vangs, in aanhouding en toe oorplasing, gely het.

Niks het daarop gedui dat sy siek was of in ‘n bakleiery betrokke was nie. Volgens ‘n verslag waarop Erongo afgekom het, gaan dit goed met die ander swartrenosters in hul nuwe weigebied, maar om beskermingsredes word besonderhede nie verstrek nie. Die swartrenosters beskik oor genoeg watergate, die weiding bestaan uit ‘n groot verskeidenheid van plante en die omgewing bied genoeg skuilplek vir diere wat uiters gevoelig vir steurings deur mense is.

In die stuk word beklemtoon dat renosters van ruwe toestande hou, maar elkeen het sy eie eienskappe. Amptelik word verklaar dat die renosters net teruggeplaas is in ‘n berggebied waar hulle oorspronlik voorgekom het. Radio’s stel bewaringsinstansies in staat om hul bewegings deurlopend te monitor.