23.01.2012 Queen Mary 2 ’n rekord vir Walvisbaai
 Walvisbaai se hawe was Sondag die gasheer vir die Queen Mary 2, die grootste passasierskip wat ooit by die hawe aangedoen het.
MET ’n lengte van 345 meter en ’n breedte van 41 m is die Queen Mary 2 (QM2) die grootste passasierskip wat tot dusver nog die hawe van Walvisbaai binnegegaan het.
Die QM2 kan 3 046 passasiers en 1 253 offisiere en bemanningslede neem. Sy is tans besig met haar jaarlikse wêreldvaart waarin sy die Atlantiese Oseaan oorsteek en het gister die kusdorp vir die eerste keer besoek. Die skip het vroeër vandeesmaand vanaf New York gevaar en sou teen gistermiddag sy wêreldreis voortsit, met Kaapstad die volgende bestemming.
Die QM2 se fasiliteite sluit onder meer vyftien restaurante en kroeë, vyf swembaddens, ’n casino, ’n balsaal en ’n teater in.
Toe die QM2 in 2003 deur die Franse maatskappy Chantiers de l’Atlantique gebou is, was sy die langste, wydste en hoogste passasierskip wat ooit gebou is.
|