23.07.2008 PPRC trek laer teen misdaad ná skokondersoek
DIT was nag in Swakopmund se buitebuurte. Blêrmusiek het uit ‘n nagklub gebulder. Kinders het met wynkanne in die strate rondgeslinger. Mans het met gebreekte bottels op straat gestaan. Dit was hul wapens vir die nag. Tyd het nie meer ‘n rol gespeel nie. Dit was ‘n broeines van onheil.
Dit was van die skokkende tonele waarop verkenners van die Swakopmundse komitee tussen die private sektor en die polisie, die PPRC, afgekom het toe met die wegtrek van die belangegroep ‘n omvang van die probleem bepaal moes word. Om tweeuur in die oggend was die verspieders op straat. Om 07:00 uur het hulle as ontnugterde mense huiswaarts gekeer.
In hul aantekeninge was daar die name van die nagklubs en sjebeens wat hulle by hul neergelegde tye gehou het, maar ook die wat hulle nie aan die neergelegde tye gesteur het nie. Die gewildste drank op straat was Tassies in kanne. Die leë kanne is sommer op die teerpad of randstene stukkend geslaan vir moordwapens vir nagte van aanrandings, verkragtings en geweld.
Die kinders het nie net met die halfkanne wyn rondgestap nie, maar was self so dronk dat hulle hulle nie kon verweer nie. Daar is om halfvyf in die oggend gesien hoe sekere plekke deur die polisie aangesê is om hul deure te sluit. Maar daar is ook waargeneem hoe die drinkers en fuiwers net na ander kuierplekke verskuif. Begrip het ontstaan vir werkers en kinders wat by die werk of op skool slaap.
Die verkenningstog het die waarnemers na sjebeens gebring wat om middernag moet sluit, maar daar was ook die kroeë wat tot om 02:00 sake kon doen en die houers van spesiale lisensies wat eers om 04:00 moes sluit. “Mense het die reg om te kla. Dit is tyd dat hulle daarvan gebruik maak,” het een van die waarnemers gesê. “Die sluitingstye word nie deur die polisie neergelê nie. Al wat die polisie kan doen, is om toe te sien dat by die voorgeskrewe ure gehou word.Klagtes kan selfs skriftelik ingedien word.”
‘n Volgende opname deur die PPRC het hoofsaaklik op Swakopmund se sentrale sakegebied gekonsentreer. Daarmee is vasgestel dat ‘n geskatte een miljoen dollars per maand in die sentrale sakegebied aan artikels en kontant gesteel word. Daarna het die ondersoek uitgekring na probleme van lede van die Hospitality Association of Namibia (HAN, Kusgebied), misdaad by outomatiese tellermasjiene op straat en die beeld van die polisie.
Alles word uitgestippel op ‘n werksveld wat nou deur die PPRC opgestel word. Een van die eerste stappe wat oorweeg word, is ‘n kantoortjie vir die PPRC. Dit moet ‘n plek wees waar klagtes deurlopend aangehoor en opgeteken kan word of waar ‘n antwoord- of faksmasjien boodskappe van klaers kan neem. In samewerking met die polisie gaan ‘n databasis oor misdaad opgebou word. Die beeld van die polisie moet ook verbeter word. Dit het reeds tot klagtes deur toeriste gelei Hulle soek na etiket in ‘n polisiekantoor.
Die selfbeeld van die polisie is ook nie goed genoeg nie. Dit kan met ‘n kursus reggestel word. Dit alles het die PPRC laat besluit op ‘n veldtog om Swakopmund binne tien jaar misdaadvry te maak. Dit gaan samewerking op vele vlakke verg met mense en groepe wat gaan saamwerk om die verhewe doel te bereik. Die media gaan ook deur die PPRC ingespan word om mense in te lig. Mense moet met oop oë in hul gemeenskappe rondbeweeg. Verdagte optredes, mense en leeglêers moet aangemeld word.
Mense moet na mekaar omsien. Ouers moet hul kinders weghou uit die strate en daar moet in verset getree word teen misdaad. Ná sluitingstye mag dronkies ook nie op straat leeglê nie. Daaroor kan selfs by die munisipaliteit gekla word. Klagtes kan skriftelik ingedien word en afskrifte moet gehou word. Wanneer klagte ingedien word, moet die naam en rang van ‘n polisieman opgeteken word. Daar moet toegesien word dat aanmeldings in die registerboek opgeteken word. Mense moet op ‘n buurtwagstelsel voorberei word.
|