27.08.2009 Perdemarathon bult
NOU bars Namibië se beroemde woestynmarathon vir ruiters op langafstandperde uit sy nate. Meer as tweehonderd inskrywings, spanne van drie lande en individuele inskrywings deur oorsese ruiters van nog twee lande word verwag.
Was dit nie vir probleme met ’n oorstappery deur vliegtuigpassasiers van Engeland na Namibië nie, was die Britte ook hier. Die individuele inskrywings is deur vier ruiters van Nieu-Seeland en twee van Duitsland. Die lande wat deur spanne verteenwoordig gaan word op die Afrika-kampioenskappe is Suid-Afrika, Botswana en Namibië.
Die woestynmarathon self sal op 2 September met die Walvisbaaise stalle as basis beslis word. Dinsdag sal die toetse deur veeartse afgehandel word en Donderdagaand sal die punte verwerk word voor die prysuitdeling die aand.
Die opkoms van ruiters en perde was in die verlede tussen 160 en 170. Die woestynmarathon sal Woensdagoggend met die wegspring om halfses begin. Sodoende sal ’n nagskof vanjaar in ’n groot mate uitgeskakel word. Deelnemers aan die spankompetisies sal 120 km aflê. Die ander twee afstande waaroor meegeding gaan word, strek oor 80 km en 50 km.
Die kategorieë waarin meegeding gaan word, is kinders, junior jong ruiters, seniors en seniors (swaargewigte). Namibië, Botswana en Suid-Afrika sal vanjaar die verwagte deelnemers aan die junior jong ruiters, die seniors en die swaargewigte wees.
Belangstelling in die byeenkoms word weerspieël deur die Suid-Afrikaners wat waarskynlik vanjaar met vyftig perde op Walvisbaai gaan aankom. Dit is ook feitlik ’n uitgemaakte saak dat kopers van langafstandperde uit Arabiese lande ook die byeenkoms gaan bywoon.
Namibië se verdedigende Afrika-kampioen, Frans Saubek, sal weer vanjaar daar wees om sy titel te verdedig.
|