23.07.2008

Perdebeeld van skroot steel kollig op veiling


Van die kunswerke wat op Omaruru tydens ‘n saamtrek van die Reiterverein opgeveil is. ‘n Deel van die opbrengs sal vir Michelle Kunzle se deelname aan die Węreldkampioenskappe in Chili gaan.
PERDEBEELDE van skroot deur ‘n Omarurukunstenaar, Samwele Natangwe Kamati, was ‘n treffer op ‘n veiling wat met die veertigste byeenkoms van die Reiterverein Omaruru saamgeval het. Eens was Samwele ‘n kunstenaar met draad. Nou werk hy met bruikbare skroot uit stortingsterreine.

Volgens ‘n inligtingstuk was Hanne Alpers van Nawa Nawa Art in die Kashana-kompleks die vrou wat Samwele se werk inspireer het. Sy was ook die een wat hom op die fynere besonderhede in die bouvorm van ‘n spogperd gewys het. Samwele self sę draadwerkkuns wel feitlik outomaties in hom op. Alles het begin toe hy as seun draadkarre gebou het om mee te speel.

Dit was die koms van ‘n kunsvorm wat hy die afgelope dertig jaar beoefen. Hy gee toe dat nuwe tegnieke in sy kuns ontwikkel het namate hy hom met groter erns daarop toegespits het. Deesdae verkies hy om met skroot te werk. “Dit is ryker aan tekstuur en lewer groter kontraste as draad. Dit verg tyd om die materiaal vir my kuns op stortingsterreine bymekaar te maak.

Die eindprodukte weerspieël vir my weer die gelukskote waarop ek op die stortingsterreine afgekom het. ‘n Rigting waarop ek nou sterk konsentreer, is beeldhouwerk met skroot. Ek volg my eie unieke styl en my onderwerpe is gewoonlik die diere van Afrika.” Samwele het ‘n vierjaarkursus aan die Kollege vir die Kunste in Windhoek voltooi.

Hy is ook met verskeie diplomas vir sy werk vereer. Hy tree ook as deeltydse lektor by die Kollege vir die Kunste in Windhoek op. Die kunsaanbod op die veiling is deur perde en die ruiterkuns oorheers. Dit het uit perdebeelde in hout en tin bestaan. Dit was ook die tema van die skilderkuns van Armin Sander.

‘n Beeld van een van die wildeperde van die Namib was die werk van Anita Steyn van Karibib, ‘n kunsfoto van ‘n perd is deur Chris Johnston, ‘n RVO-embleem op graniet deur Makakata en skenkings deur Decor Signs van Otjiwarongo.