Penguin bly bobaas langs die viswater

Penguin het op die wenpad gebly toe die tweede ronde van die interklubkompetisie van die Namibiese Hengelunie by Horingbaai beslis is. Dit gee aan die klub ?n gerieflike voorsprong nadat hulle ook die wenners van die eerste kompetisie by Myl 108 was. Tweede was Namibpark en derde Hentiesbaai.

Sestien spanne het aan die kompetisie deelgeneem en 254 hengelaars het ingegooi. Die kampioenhengelaar van die byeenkoms was ?n junior, Joe Hermann van die klub Orca. Tweede was Charles Bothma van Namibpark en derde Olaf Coetzee van Walvisbaai.

Die swaarste eetbare vis was William Klemp van Orca se steenbras van 8,9 kg. Charles Bothma se bronshaai van 87,6 kg was die grootste oneetbare vis.

Op die kampioenskappe is 81 haaie met ?n gesamentlike gewig van 2 345,40 kg gevang. Die 77 oneetbare visse het saam 110,30 kg geweeg. Bronshaaie het die oneetbare afdeling oorheers en kabeljoue die eetbare kategorie. Agttien kolsterte, nege steenbrasse en nege galjoene is gevang.

Onder die vroue was Desiree Klemp van Orca die wenner met Leandra van Bosch van Atlantic tweede en Cecil Loubscher van Hentiesbaai derde.

Joe Hermann, die algehele wenner, was ook die wenner van die afdeling vir juniors. Ras van der Westhuizen van Welwitschia was tweede en Nols Diederichs van Hentiesbaai derde.

Kategorie: