17.5.2012
 Argiewe:

Erongo


Tuisblad-argief

15.05.12

Tuisblad van 15 Apr '12

14.05.12

Tuisblad van 14 Apr '12

11.05.12

Tuisblad van 11 Apr '12

10.05.12

Tuisblad van 10 Apr '12

09.05.12

Tuisblad van 09 Apr '12

19.01.2012

Parkering ontstel Swakopmunders


Betogers staan in die parkeerterrein op Swakopmund se middedorp om hul beswaar teen die ontwikkeling van die nuwe ondergrondse parkeerarea aan te dui. Meer as 600 mense het ’n petisie onderteken hoewel sommige klaarblyklik nie verstaan het waaroor dit gaan nie.

ONTSTELDE Swakopmunders het Dinsdag in die middedorp betoog om hul beswaar teen die nuutbeplande ontwikkeling van ondergrondse parkering in die middedorp te toon. Meer as 600 mense het reeds ’n petisie onderteken, volgens mnr. Lucky Gaseb, leier van die demonstrasie.

Ondanks ’n kennisgewing vroeër die oggend deur Swakopmund se hoof uitvoerende beampte, mnr. Eckart Demasius, het die groep betogers steeds met hul demonstrasie voortgegaan. Die groter deel van die betogers was werknemers van Woermann Brock en sommige het klaarblyklik nie mooi verstaan hoekom hulle daar is nie.

Verskeie standpunte is op plakkate uitgebasuin wat vanaf verskeie belangegroepe gekom het. Dit sluit in dat die munisipaliteit nie deursigtig is nie en nie sy eie tendervoorwaardes eerbiedig nie, dat dit sy kredietwaardigheid verloor en ook openbare teenkanting op tegniese gronde vermy.

Betogers is daarteen gekant dat die laaste oop openbare ruimte in die middedorp gesluit word, asook dat dit vir ’n prys van ongeveer N$10 miljoen verkoop word. Die mening bestaan dat indien die parkeerterrein gesluit word, dit ’n doodskoot vir sake in die middedorp sal wees.

Volgens mnr. Ingo Woermann van Woermann Brock Swakopmund, bestaan onsekerheid oor hoe die beplande parkering gebruik gaan word. Beweringe is dat dit nie vir die publiek oop sal wees nie.

Volgens die stadsplanne sal meer as 300 nuwe ondergrondse parkeerplekke geskep word om die huidige 115 te vervang. Blykbaar moet die 115 verplaasde parkeerplekke asook bykomende parkering vir die besighede in die omgewing in die nuwe ontwikkeling ingesluit word.

Volgens Woermann het die maatskappy wat die ontwikkeling doen, voorgestel om die 115 parkeerplekke te vervang, maar op ’n ander plek. “Ons soek die parkering waar dit is, nie op ’n ander plek nie,” sê Woermann.

“Waarom is dit dat die belastingbetalers alewig verontrief word?” het ’n bystander gesê.

In reaksie op die stellings het Demasius gesê dat hy nie kommentaar wil lewer op blote beweringe waarvoor geen bewyse bestaan nie. Hy het ook gesê dat hy nie onwettige demonstrasies sal bywoon nie.

“Hulle maak dit weer van voor af ’n Strand hotel-ding. Diegene wat teen die ontwikkeling is, moes hul besware reeds in die beginfase van die projek na vore gebring het,” sê Demasius. Hy noem dat verskeie openbare vergaderings gehou is, dat vele advertensies sedert 2008 in koerante geplaas was en die ontwikkeling was ook op raadsvergaderings bespreek wat vir die publiek oop is.