6.09.2010 Pad eis lewe
’n VYFTIENJARIGE meisie van Walvisbaai is Saterdag op slag dood en vyf mense beseer in ’n botsing op die kuspad tussen Swakopmund en Walvisbaai nadat ’n ligte vragmotor teen ’n hoë snelheid ’n ander voertuig teen ’n blinde hoogte probeer verbysteek het.
Twee van die vyf beseerdes verkeer in ’n ernstige toestand en is deur die ambulansdiens St. Gabriels van die toneel na Windhoek gehaas.
Altwee die beseerdes was in die voertuig vasgepen en moes deur brandweermanne met behulp van meganiese toerusting bevry word.
Die ongeluk het Saterdag net ná 18:00 naby Langstrand tussen die ligte vragmotor en ’n taxi gebeur.
Die oorledene en al die beseerdes was in die taxi terwyl nie een van die ses insittendes van die ligte vragmotor beseer is nie.
Teen druktyd was die name van die oorledene en die beseerdes nog nie vrygestel nie.
|