17.5.2012
 Argiewe:

Erongo


Tuisblad-argief

15.05.12

Tuisblad van 15 Apr '12

14.05.12

Tuisblad van 14 Apr '12

11.05.12

Tuisblad van 11 Apr '12

10.05.12

Tuisblad van 10 Apr '12

09.05.12

Tuisblad van 09 Apr '12

24.02.2010

Ongeluksvoël kry ’n veilige staanplek

© Anneli Erasmus
Usakos se stoomlokomotief uit die gloriejare toe die dorp die aansluitingspunt tussen breëspoor- en smalspoorverkeer na die Noorde was. Hier staan dit weer veilig op al sy wiele op spoorstawe nadat dit uit die pad van wegholvragmotors verskuif is. Nog verbeterings kan op die nuwe terrein van die lokomotief aangebring word.

Ná talle stampe en stote wag ’n veiliger toekoms op die geskiedkundige lokomotiefie van Usakos. Dit het gewyk uit die pad van wegholvragmotors teen die bult wes van Usakos. Die lokomotief uit die smalspoordae van die jare veertig is deur TransNamib verskuif nadat dit die afgelope jare twee keer deur voortsnellende vragdraers getref is. Van die ongelukke was noodlottig.

Die swaar tuie se remstelsels het nie teen die heuwelland wes van Usakos gehou nie en die padmonsters het nie net die lokomotief skuins getref nie, maar ook die ou stasieperseel platgeloop. Hystoerusting van Walvisbaai moes onder meer gebruik word om die swaar tuig van sy ou staanplek na die nuwe te verskuif.

Dit is weer op ’n stuk spoor met netjiese klipwerk geplaas. Die lokomotief het as erfstuk uit Usakos se gloriejare voor die ou stasiegebou gestaan. Daar was dit deurlopend in gevaar met die hoofweg tussen die kus en die binneland wat daar ’n T-aansluiting vorm. In die laaste stormloop van ’n vragmotor het die lokomotief ontspoor en skuins gehang.

Dit het baie kommentaar van reisigers gelok en die verskuiwing het eers ná baie maande van gesprekke tussen die munisipaliteit en TransNamib gekom. Die hoof uitvoerende beampte van die munisipaliteit van Usakos, mnr. Joseph Jantze, het aan Erongo gesê dis nie waar planne met die treintjie eindig nie.

Met die verskuiwing het die munisipaliteit reeds tot die restourasie van die ou tuig bygedra deur dit oor te verf en lapwerk te doen waar verwaarlosing letsels gelaat het. ’n Volgende stap gaan wees om die terrein te omhein met ’n bord oor die geskiedenis van die lokomotief wat ook op die perseel aangebring gaan word.

’n Moontlikheid word ook ondersoek om die terrein ’n staanplek vir handvaardiges van die dorp en die omgewing te maak. Klipverkopers word as een groep genoem wat daar ’n handelstuiste kan vind. Die klipsmouse doen nou hul sake op straat en het ’n laswaarde vir besoekers.