
Die nuwe Woermann Brock-kompleks op Walvisbaai (bo) bied 'n koopervaring vir die hele gesin waar van kos en linneware tot tuingereedskap en toebehore vir ontspanning gekoop kan word.
DIE Vineta-inkoopsentrum van die kettinggroep Woermann Brock Swakopmund (WBS) gaan ‘n nuwe baadjie kry. Dit gaan die kleed kry van die nuwe kompleks wat pas in die sentrale sakegebied van Walvisbaai geopen het.
Ander projekte van die toekoms wat deur die bedryfsbestuurder, mnr. Tielman van Lill, met die amptelike opening van die Walvisbaai-kompleks aangekondig is, is ‘n tak van die WBS-groep in April in die Walvisbaaise woonbuurt Kuisebmond en die vestiging van ‘n inkoopsentrum later aanstaande jaar op Arandis. Die afgelope jaar het takke in die Swakopmundse woonbuurt Mondesa en nou ook die sentrale sakegebied van Walvisbaai geopen.
Die Walvisbaaise styl wat in Vineta gevolg gaan word, is die samevoeging van Woermann Brock met die restaurantgroep Wimpy en Sheet Street en die ysterwareafdeling WB Ysterware. Laasgenoemde vertakking konsentreer op die Handige Hansies in die gemeenskap. Volgens mnr. Van Lill bied dit aan die gesin ‘n breë koopervaring met ‘n enkele stilhouslag in ‘n veilige omgewing en met genoeg parkeerruimte. ‘n Volle produktereeks, waaronder Woermann Brock se ingevoerde goedere, word in die moderne en gemoderniseerde sentrums aangebied.
Op Walvisbaai word wyn in ‘n lokaal vir wynverkoeling vertoon. Die slaghuis se aanbod is vars vleis, maar ook dan die geprosesseerde lekkernye van vleis waarvoor die groep bekend geword het. Die bakkery se reekse is elke oggend om seweuur beskikbaar met die koffiekroeggeriewe wat tot sononder beskikbaar is. Die Woermann Brock Swakopmund-groep se personeelmag bestaan uit driehonderd Namibiërs met ‘n bestuurs- en ontwikkelingsprogram wat vanjaar vir veertig personeellede aangebied is.
Teen die einde van aanstaande jaar behoort die werkersmag op vierhonderd te staan. Die bestuurspan in die nuwe Walvisbaaikompleks is Johann Papenfuss, winkelbestuurder en streekbestuurder vir Walvisbaai, Cedric Daniels, vloerbestuurder, en Mandy Prins, ontvangsbestuurder.