MATT Williams (29), ‘n gebore Swakopmunder, het die hoogste spits van die berg Everest om halfnege (Nepaltyd) op 23 Mei bereik. In Namibiese tyd was dit net ná drie-uur die nag. In die rekordboeke staan opgeteken dat hy die eerste gebore Namibiër is wat die hoogste spits bereik het.
Dit laat Namibië aansluit by klimmers van 21 lande wat reeds die Godin van die Lug verower het. MATT Williams is op 10 Junie 1979 in die Antonius-hospitaal op Swakopmund gebore. Hy het ‘n Duitse kleuterskool bygewoon en daarna was hy ‘n leerling van die Hoërskool Swakopmund (Engelsmedium). Hy het tot sy tiende jaar saam met sy ouers op Swakopmund gebly. Sy laaste kuiertjie op Swakopmund was in 1996.
Hy brand om weer te kom, maar die 29-jarige jong man met hernieubare krag as beroepsrigting bly nou in Engeland met sy ouers in Amerika. Hy is steeds ‘n alleenloper. MATT Williams was genoodsaak om Britse burgerskap te aanvaar, omdat dubbele burgerskap nie deur Namibië toegelaat word nie. Hy weet van ander Namibiërs wat reeds in die Everest-omgewing getoer het, maar hy was die eerste gebore Namibiër wat tot bo geklim het.
In die proses het hy hom by ‘n prestasie van sowat drieduisend klimmers aangesluit sedert sir Edmund Hillary (Nieu-Seeland) se verowering van die berg in 1953. MATT Williams het op die berg besluit hy sal nooit weer terugkeer nie. Vir soveel pyn en ontbering sien hy net nie weer kans nie.
Maar hy oorweeg al weer ‘n volgende aanslag, dié keer sonder aanvullende suurstof en waarskynlik teen die noordelike hange aan die Tibetkant uit. MATT Williams se grootste belewenis op die berg was dagbreek op ‘n hoogte van sowat 8 500 meter bo seevlak. Die natuurskoon was onbeskryflik.
“Ek het soos ‘n maanreisiger gevoel in my swaar pak teen die snerpende koue, ‘n suurstofmasker, ‘n sneeubril en al die toerusting wat ek gedra het. Dit was net ek en die berg. Dit was net ek op my twee voete om bo en dan weer af te kom, anders sou ek sterf. Agt uur lank was dit net ek en my selfopdrag.”