23.07.2008

Myl 4 se geheim uit

DIE geheim van die doodsakker van Myl 4 is eintlik geen geheim nie. Dis nie massagrafte uit ‘n vorige tydvak van geweld nie. Dit verteenwoordig ook nie ‘n onopgetekende gruwel wat by historici verbygegaan het nie. Die hopies grond wat deur ‘n natuurbewaringsinstansie met die munisipaliteit opgeneem is na bewusmaking daarvan deur ‘n internasionale beeldradiokanaal, kan blykbaar aan prospekteerders toegeskryf word.

Nog ‘n moontlikheid is dat bouers van sowat ‘n halfeeu gelede daar sand vir hul konstruksiewerk gegrawe het. Die gate wat daar ontstaan het, kon toe weer deur Swakopmunders as stortingsterrein gebruik word. Die gebied lê net suid van die gewilde kampeergebied Myl 4 aan die noordelike buitewyke van Swakopmund. Die geheimenisse van die hopies sand het historici diep vir ‘n verklaring laat delf.

Dit het hulle selfs na ‘n tehuis vir bejaardes gebring waar ‘n 95-jarige vrou insiggewende inligting verskaf het. ‘n Swakopmunder wat na die geheimenisse van die aarde en die see delf, Mike Thygesen, het ook aan die soektog vir ‘n verklaring deelgeneem. Een van die weergawes is dat die hopies aan die werk van prospekteerders in die jare 1942/43 toegeskryf kan word.

Op die plek het die mynmanne blykbaar agaat gesoek. Volgens Mike Thygesen lyk dit of die hopies veroorsaak is deur mense wat sand en ander boumateriaal daar kom skep het. Mike het op die plek ook op baie glasskerwe afgekom wat van ‘n verskeidenheid van bottels kan wees. Die meeste het nie inskripsies nie, maar dit lyk of dit uit die vroeë jare sestig van die vorige eeu afkomstig kan wees.

Hy het ook ‘n metaalklikker gebruik waar hy ondersoek ingestel het. Dit het baie stukke verroeste yster uitgewys. Daar is ook op ‘n enkele bronsknoop afgekom en ‘n stuk koper van 1,5 meter kan van ‘n ou stoof wees. Twee toetsgate is ook van hopies sowat 20 meter van mekaar gegrawe. Daar is op ‘n hele paar groen wynbottels afgekom met Stellenbosch leesbaar op die etikette. ‘n Heel roomvaas is ook gekry.

Nog een was gebreek en in ‘n ou Engelse koerant van 1946 toegedraai. Vier meerdoelige bottels is uitgehaal, asook skoonmaakmiddels. ‘n Groot plastiekpop is gekry, maar dit was platgedruk. Nog ‘n stuk van ‘n ou Engelse koerant met ‘n datumlyn 1936 het uitgekom. Duitse koerante was ook daar, maar die datums kon nie uitgemaak word nie.

In die gebied om die twee gate was daar baie groen bottelskerwe wat ooglopend ouer as die eersgenoemde skerwe is. Dit lyk soos die glas wat oral in die Namib aangetref word en uit die Duitse tydperk dateer. Vir Mike wil dit voorkom of dit sandputte in die Duitse tydperk was, maar later as ‘n stortingsterrein gebruik is. Onder die argeologiese materiaal was daar net die bottelskerwe wat moontlik uit die Duitse tydperk gekom het. Ander materiaal dateer uit tydperke ná 1930.