4.03.2010 Marina se vaarwater te diep?
SWAKOPMUND se wit olifant wil weer nie loop nie. ’n Hervatting van die waterkantontwikkeling op die woonbuurt Vineta se noordstrande kan gekelder word deur tydskedules wat deur die stadsraad neergelê is en waaraan die ontwikkelaars moet voldoen.
Die stadsraad dreig selfs om alle steun aan die projek te onttrek. Die omstrede marina van die toekoms het weer die sakelys van die stadsraad gehaal. Dié keer vra die ontwikkelaars ’n wysiging van ’n bepaling dat die ontwikkeling binne ses maande ná die aanvaarding van oordrag moet begin. Teen daardie tyd moet die stadsraad reeds die bouplanne goedgekeur hê. Die onderverdeling en konsolidasie van erwe moet ook afgehandel wees.
Kortom, bouwerk moet dan begin. Daarna moet by die tydskedule vir die voltooiing van die projek gehou word.
Die regsverteenwoordigers van die ontwikkelaars, Alberts Investment Number Eight, het nou laat weet dat alles gereed is vir die oordrag van die eiendom. Maar die heersende "ekonomiese klimaat" regverdig en steun nie nou die voorgestelde ontwikkeling nie. Daar is nie genoeg belangstellendes om binne ses maande ná oordrag met die ontwikkeling te begin nie.
Die ontwikkelaars glo steedsdie waterkantontwikkeling verteenwoordig ’n lewenskragtige onderneming op die lange duur, maar dit sal nie redelik en moontlik wees om binne ses maande ná oordrag met die bouprogram te begin nie. Daar kan steeds by die neergelegde voltooiingsdatum gehou word. Dit is vier jaar ná die begin van die bouprogram.
Volgens ’n voorlegging aan die stadsraad sal so ’n wysiging meebring dat ’n ontwikkelaar onbepaald tyd vergun word vir die voltooiing van die projek. Die stadsraad het opnuut besluit dat die ontwikkelaars binne negentig dae oordrag moet neem. Sou dit nie gebeur nie, sal die stadsraad alle steun aan die projek beëindig. Binne ses maande ná oordrag moet bouwerk dan begin.
|