
Die amptelike onthulling van die naamplaat van die Uraaninstituut gister op Swakopmund. Voor links staan die goewerneur van die Erongo-streek, mnr. Samuel Nuuyoma, wat die onthulling waargeneem het saam met dr. Wotan Swiegers, direkteur van die instituut. Agter van links staan mnre. Mike Leech, president van die Kamer van Mynwese, Werner Duvenage, hoof uitvoerende beampte van die uraanmyn Langer Heinrich, en Linus Garoëb, hoof uitvoerende beampte van die Erongo-streekraad.
’n VERDRIEDUBBELING van die kraglading in die ekonomie van Namibië gaan deur die uraanstormloop in die Namib gestuur word.
Ook die belastinggaarder se beursie gaan bult wanneer die miljarde uit die bron binne vyf jaar meer as verdubbel. In die proses gaan mynbou ander mededingers om die voorste plek as verdiener van buitelandse valuta vir Namibië uit sy pad stamp.
Vir Jan Alleman gaan die eens barre Namib ’n plek met bestaansmoontlikhede word met derduisende werkgeleenthede wat deur die bestaande en ontluikende myne geskep gaan word.
Geweldige ontwikkelingsdruk gaan op munisipaliteite in die Erongostreek geplaas word, maar vir nog 35 000 mense gaan die ontploffing brood op hul tafels beteken.
In die geldtsoenami gaan die veiligheid van mense eerste gestel word in ’n produk wat weens internasionale mistastings eens gevrees was. Soos oor die mense, gaan aan die weerlose omgewing bewys word dat daar in die stormloop omgegee word.
Die eerste werklike prentjie oor hoe uraan in die dorsland die ekonomie van die land in ’n nuwe wentelbaan gaan stuur, is gister op Swakopmund gegee met die amptelike opening van die Uraaninstituut van Namibië.
Die manne met hul vingers op die knoppies wat die geldladings gaan vuur, was die goewerneur van die Erongo-Dit het 3,8 persent van Namibië se bruto binnelandse produk verteenwoordig. Die uitvoerwaarde van uraan was toe N$4,5 miljard (US$548 miljoen), gelykstaande aan 12 persent van Namibië se uitvoere.
Mnr. Mike Leech het namens die Kamer van Mynwese gesê voorsiening sal deur die regeerders vir die invloei van mense na die Erongo-streek gemaak moet word.
Die mynbedryf se arbeidsmag in die Erongo-streek staan nou op minder as sewe duisend mense.
Met die uitbreidings aan bestaande myne en die koms van nuwe myne kan tot nog sewe duisend werkgeleenthede geskep word.
Elke werkgeleentheid verteenwoordig gewoonlik sowat vyf mense en dit kan tot ’n toestroming van nog sowat 35 000 mense lei.