2.09.2010 Knyp of betaal op Walvisbaai
OP Walvisbaai is die groot knyp afgekondig, sodat die manne en vroue van Kuisebmond later kan laat waai. As die natuur wel roep en hulle werklik ’n draaitjie moet loop, moet dit liefs bietjie-bietjie wees. Die probleem is steeds die gebreekte rioolpypleiding onder geboue en onder Corisstraat deur in die tradisionele woonbuurt Kuisebmond.
Lapwerk moet dringend gedoen word. Die Kapenaars TT Innovations het reeds die tendertoekenning gekry. TieTie ken glo hul storie met ’n poefiestorm. Die hele pyp moet sommer uit. Daarvoor moet jy af en wyd boor. Nie sommer elke hierjy se werk nie.
Nuwe tegnieke sal gevolg moet word met hierdie bollie. By die bestaande mangate sal die grond uitgedolwe moet word, maar dit moet gedoen word. Anders sal die manne en vroue vir twee maande moet knyp. Die taxi’s wat passasiers oor ver paaie vervoer, gaan onder die knypers wees, want Coris-straat sal vir die ---werk gesluit moet word.
Passasiers sal moet hou totdat die naaste bosse en bome die woestynvlaktes breek. Die manne en vroue met sakeondernemings in die straat en ook ondernemers in die gebied tussen die straat en die vakbondkantore Natau sal ook hul sit en staan moet ken. Motors en voetgangers gaan dit moeilik vind om die plek te bereik.
Die werk sal net gedoen kan word as rioolvloei so min as moontlik gehou kan word, waarsku die hoofskakelbeampte van Walvisbaai, mnr. Kevin Adams. Veral in die beginstadium van die werk moet geknyp word. Dit is wanneer koppelwerk in die mangate gedoen gaan word. Daarvoor sal watertoevoer na die gebied onderbreek moet word.
Dit is wanneer die sit-sit so maar’n droë affêre gaan word. Inligting sal wel deurlopend verstrek word oor wanneer daar water gaan wees en wanneer nie. Dan kan die weg van alle vlees beplan word. Mnr. Adams maak ook ’n skatting van die duur van die groot knyp.
As alles goed verloop, sal die manne en vroue van Kuisebmond maar vir sowat ’n week met die geswolle kieste hoef rond te loop. Hy gee toe dat dit ongemaklik gaan wees, maar in belang van die uiteindelike groot druk, vertrou hy die inwoners sal begrip toon. As alles verby is, kan hulle maar laat waai.
|