
Danre Strydom.
TWEE begaafde jong musikante van Namibië wat nou in die buiteland studeer, trakteer Swakopmunders vanaand op’n uitvoering van klassieke musiek met werke van meesters soos Brahms, Schumann, Schubert en ander bekende komponiste.
Die twee musikante, Danre en Cezarre Strydom, tree op in die Bank Windhoek Kultur Aula op Swakopmund. Die konsert beloof iets vir elke musiekliefhebber. Cezarre Strydom het op die ouderdom van sewe begin met formele klavieronderrig onder leiding van Valerie van Biljon. In 2003 was hy ’n finalis in die Sanlam-musiekkompetisie en in 2005 wen hy die Musikon Nasionale Klavierkompetisie in Suid-Afrika.
Ná sy studies in Bloemfontein by me. Nettie Immelman is hy gekeur vir een van die voorste musiekhoërskole in die VSA, die Interlochen Kunsakademie. Nadat hy sy skoolloopbaan hier voltooi het, sit hy sy studies voort aan die Universiteit van Michigan, waar hy steeds studeer.

Cezarre Strydom.
Danre Strydom is besig met haar nagraadse studies aan die Koninklike Kollege vir Musiek in België. Sy het haar BMus Hons voltooi aan die Universiteit van die Vrystaat en daarna haar kunstenaarsdiploma aan die Jacobsskool vir Musiek van die Universiteit van Indiana.
Eli Eban, Eric Hoeprich en Eddy Vanoosthuyse is van die befaamde klarinetspelers onder wie sy studeer het. Tydens haar studies in Namibië en Suid-Afrika het sy verskeie toekennings gekry, onder meer die ATKV-toekenning vir veelsydigheid in kultuur , FAK-musiektoekenning, R. Muller-toekenning vir kulturele en akademiese uitnemendheid en die Eerste Nasional Bank-toekenning vir musiekprestasies.
Danre het ook die Universiteit van die Vrystaat se Oud-Presidensietoekenning gekry vir die beste finalejaarstudent en al haar grade met lof geslaag. Behalwe vir haar solo-optredes saam met verskeie orkeste soos die Vrystaatse Simfonieorkes en die KZN-filharmoniese orkes, is Danre ook vanjaar gekies om ’n werk van ’n Amerikaanse komponis te premier saam met die Koninklike Kollege- orkes in België.
Danre speel nou in die Filharmoniese orkes van Brussel en een van hul mees onlangse produksies was by die Wêreldmusiektoekennings. Kaartjies teen N$50 vir die konsert is beskikbaar by Die Muschel op Swakopmund en ook by die deure. Die konsert begin om 1930.