
Randall Wicomb, ’n ikoon in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en prof. Aldo Behrens, teaterlegende en Namibiese Afrikoon, geniet ’n oomblik van stilte saam op die geskiedkundige ysterkaai op Swakopmund voordat hulle begin repeteer aan die Voete van ’n Gemsbok, ’n teaterstuk geskryf deur Aldo Behrens. Wicomb vertolk die rol van ’n nar in die stuk wat gebaseer is op die Griekwa-Psalms deur Hans du Plessis en hy sal van sy welbekende arias sing saam met die Mascato-jeugkoor onder leiding van die immergroen koordirigent, Ena Venter. Voete van ’n Gemsbok sal vanaf 2 tot 4 September in Windhoek opgevoer word voordat dit kus toe sal skuif met vertonings vanaf 8 tot 10 September in die Bank Windhoek NPS-Kultuuraula op Swakopmund.
’n AANGRYPENDE oomblik in die lewe van die geroemde Randall Wicomb van Suid-Afrika het verlede week op die diepste punt van Swakopmund se gerestoureerde kaai aangebreek.
Die sanger het self aan Erongo vertel hoe hy daar alleen in oomblikke van bepeinsing aan die see dankie gesę het vir ’n lewe en ’n loopbaan wat aan hom gegun is.
Die minsame Randall (Duitswes Wals) sę hy was as kind ’n ernstige asmalyer. Sy bors het wel oopgetrek wanneer hy van die binneland by die see gekom het. Kry hy ’n ernstige aanval, het sy ma hom na die rotse van Kampsbaai se strande gebring.
Daar het hy dan lank op haar skootgelę totdat sy asemhaling na normaal teruggekeer het. Namate volwassenheid ingetree het, het hy die asmakwaal heeltemal ontgroei.
Maar sy herinnering aan die kuur van die see het gebly. Daarvoor was hy dankbaar daar op die jettie se punt.
“Swakopmund is ’n wonderlike plek,” het hy gesę.