24.07.2008

Jeug wys vernuf op Swakopmund

VERVAARDIGERS en die leweransiers van dienste, kunstenaars en sakevernuf van ‘n opkomende geslag gaan die drie kategorieë wees waarop gekonsentreer gaan word wanneer die jeugekspo van die Erongo-streek van vandag tot Sondag op Swakopmund gehou gaan word. Die saamtrek vind by die amfiteater naby die Mole plaas.

Die ekspo word deur die Jeugforum van Erongo in samewerking met die Nasionale Jeugraad aangebied. Een van die doelwitte is om die jeug aan te moedig om al hoe meer hul eie sakeondernemings te begin. Vanjaar sal ‘n hoogtepunt die aanwysing van Mej. Erongo Jeugekspo wees. By die geleentheid sal ontluikende jong kunstenaars optree met insette deur reeds bekende kunstenaars soos Ralph & Pelle – Kamasutra –Tequlla.

Vervaardigers en die leweransiers van dienste kan die ekspo gebruik om in uitstallings te bewys wat hulle reeds bereik het. Vennootskappe en ooreenkomste tussen jong ondernemers se resultate kan onder die vertoonstukke wees. Sodoende kan van mekaar geleer word hoe beleggings vir opkomende bedrywe gewerf kan word, volgens ‘n verklaring deur die Jeugforum van Erongo.

In die proses kan armoede die stryd aangesê word en kan uitgewys word hoe die jeug kan inskakel by die sosio-ekonomiese ontwikkeling van Namibië. Dit is ook ‘n geleentheid waar koöperasies geleenthede kan uitwys wat vir die jeug bestaan. Jong en ontluikende kunstenaars kry in die tweede kategorie ‘n geleentheid.

Hulle sal hul vernuf en kuns kan uitbeeld. Dit gaan ook aan kunstenaars ‘n geleentheid bied om van mekaar te leer. In die proses kan uitgewys word hoe die kuns van die jeug by die kuns van Afrika kan inskakel. Rigtings wat beoefen kan word, is drama, die skryfkuns, musiek en ander beeldende kunste. In die derde kategorie sal op uitbreidingsgeleenthede vir jong ondernemers gekonsentreer word. Die ekspo maak voorsiening vir sowat driehonderd deelnemers met 95 uitstallers wat vroeg bespreek het.

• Skakelbesonderhede: Ernst Weather, sel. 081 292 5402; Gerson Geingob, sel. 081 340 0026; Aksel Shuudeny, sel. 081 235 9457.