
Coenie Botha
HERITAGE Hill Estate is die leefstyl waarvan almal droom. So het die besturende direkteur van die nuwe beplande landgoed net buite Swakopmund, mnr. Coenie Botha, Heritage Hill tydens die amptelike bekendstelling afgelope Donderdag beskryf.
Volgens Botha sal die dorpie in die woestyn, met temperature van 7 tot 9 grade Celsius warmer as Swakopmund, die toonbeeld van ’n omgewingsvriendelike bestaan wees.
Fase een van die ontwikkeling sal die verkoop van 125 enkelwooneenhede insluit. Elke belegger het die kans om een van tien huisplanne te kies, terwyl elke huis met onder meer optiese veselkabels, sonpanele en ’n kombuis (uniek ontwerp deur Nini Burger) toegerus sal wees.
Die beplande dorpie sal alles van restaurante, koffiewinkels, ’n gimnasium met swembad, tennisbane, ’n amfiteater, asook ’n hotel met 350 slaapkamers bevat.
Verder word ’n tremstelsel vir die N$1,2 miljard landgoed beplan, wat inwoners en besoekers sal vervoer, terwyl ’n busdiens vir die vervoer van skoolkinders beplan word.