23.07.2008 Hentiesbaai
DIE dooie punt waarmee die munisipaliteit van Hentiesbaai op die vlak van die bestuurskomitee verkeer, strook met geen beginsel van gesonde sake in ‘n plaaslike owerheid nie. Dit verteenwoordig niks anders nie as ‘n halsstarrigheid waarmee dorpsontwikkeling geblokkeer word. Meerderhede en minderhede is begrippe so oud soos die demokrasie.
Juis minderhede kan ‘n wagtersrol vertolk wat as ‘n remstelsel teen blindelingse en selfs roekelose besluitneming deur ‘n meerderheid kan dien. Op bestuursvlak is ‘n swygende of nie-deelnemende minderheid ‘n nuttelose faktor. In die geval van Hentiesbaai is deelname te meer belangrik met ‘n dorp op die drumpel van groter wording.
Op Hentiesbaai het ‘n bewindsverandering in die stadsraad danksy nuwe koalisievorming ingetree. So ‘n meerderheid van vier teen drie het ‘n nuwe burgemeester, onderburgemeester, voorsitter van die raad en in twee van die drie lede van die bestuurskomitee laat oorneem. Dit het een vakature in die bestuurskomitee vir die Swapo-minderheid gelaat, ‘n vakature wat deur die minderheid ondanks herhaalde pogings geweier is.
Dit het die dorp met net ‘n gedeeltelike bestuurskomitee gelaat. Sekere kontrakte kon nie onderteken word nie en dorpsake kon nie hier soos in die binnekamer van elke stadsraad uitgepluis word nie. Die verset om ‘n opposisielid vir die bestuurskomitee aan te wys, bots regstreeks teen nugtere denke wanneer mense hulle vir die stadsraad verkiesbaar stel.
Wanneer ‘n naam op ‘n partylys vir die stadsraad geplaas word, is die implikasie dat sodanige persoon bereid sal wees om ‘n dorp in elke moontlike amp te dien. Dit het nie gebeur nie. Daarvan moes nie net op die munisipale bestuursvlak kennis geneem word nie, maar ook binne die groter party-organisasie. Dit is ‘n werklikheid wat reeds deur Swapo in die geval van Usakos aanvaar was.
Op dié Erongo-dorp het ‘n soortgelyke weiering bestaan om in die bestuurskomitee te dien. Toe het die opdrag van die hoëre partygesag gekom om wel die vakature in die bestuurskomitee te vul. Normale munisipale bestuur kon onmiddellik voortgaan. Op dieselfde wyse kan van die party-owerheid verwag word om die koppige driemanskap in opposisie te beopdrag om die vakature te vul. Eers dan kan ‘n party sy ondernemings teenoor sy kiesers nakom. Hentiesbaai wag.
|