Hentiesbaai skop hoog vir seniors

Hentiesbaai gaan op Onafhanklikheidsdag al skoppend vir dié dorp se hoësorgsentrum in die pad val.

Organiseerders nooi mense van die ganse land om hul hande te kom vat in hul pogings om die enorme bedrag van N$1,6 miljoen in te samel .

Die hengeldorp se hoësorgsentrum pryk reeds in die hoofstraat as 'n monument vir die inwoners se deursettingsvermoë om met 'n pannekoekverkope hier en 'n staptog daar potte vol geld in te samel. Maar op ?n dorp waarvan die hart uit afgetrede mense van oral in Namibië bestaan, het die sentrum te klein geword en word daar nou gemik na 'n tweede verdieping wat N$1,6 miljoen gaan beloop.

Daarom word nou beplan vir 21 Maart se Fragile Independence Opskop wat ?n dag van pret gaan wees met sterk ondersteuning van die nuwe hotel De Duine. Op die dag gaan deelnemers vroegoggend by Jakkalsputz in die pad val met ?n bal voor die voete en daar gaan tot voor die hotel gedribbel word. Stappers met honde aan leibande mag ook deelneem. Verskeie pryse gaan op die spel wees.

By die hotel gaan deelnemers deur De Duine op ?n lambraai getrakteer word en die aand is daar ?n langarmdans. Inskrywingsgeld vir deelname is N$60 en dit sluit die middagete en die aand se dansparty in. Ligte verversings sal die aand te koop wees.

Tuisnyweraars is ook genooi om op die dag kraampies voor die hotel op te sit om hul ware te verkoop wat net nie kompeterend met die hotel se produkte moet wees nie. Die kraampies kan gratis opgesit word, maar ?n skenking aan die hoësorgsentrum sal op prys gestel word.

Belangstellendes kan met Tiaan van der Walt by 081 124 3616 of Flip van Vuuren by 081 122 9010 skakel..

Kategorie: