24.07.2008

Groot deurbraak vir gimnastiek in skole


Valereis Geldenhuys maak jong gimnaste touwys. Dit was onder haar leiding wat skolegimnastiek sedert die jare tagtig bly floreer het ten spyte daarvan dat gimnastiek van die leerplanne van skole verdwyn het.
DIE weg boontoe is vir Erongo-gimnaste gebaan met die aanvaarding van die Gimnastiekfederasie van Namibië deur die Skolesportunie van Namibië. Die NGF het met ‘n alleenvaart op die gebied van gimnastiek onder aanvoering van me. Valereis Geldenhuys volgehou nadat gimnastiek in die jare tagtig van die leerplanne van skole verdwyn het.

Sedert 2001 het die NGF hom beywer om gimnastiek in skole aan die lewe te hou sonder die bystand van groot borge. Met aanvaarding deur die Skolesportunie sal gimnaste van skole nou bygestaan word met reise na streekbyeenkomste en die nasionale skolekampioenskapsbyeenkoms.

‘n Ontwikkelingsgroep wat aan die eerste ronde van die kwalifiserende ronde in Artistiese Vrouegimnastiek op Walvisbaai deelgeneem het.
Die skoolprogram is deur tagtig skole, seshonderd onderwysers en meer as seweduisend leerders ondersteun. Volgens die NGF is skole die plek waar jong talent op die voorgrond sal tree en gaan ontwikkel.

Die opkomende talent sal dan verder deur professionele klubs in Namibië ontwikkel word. Dit kan weer tot die verowering van medaljes met internasionale deelname lei en sal die intenasionale gemeenskap van Namibiese gimnaste kennis laat neem.