
Van die hooffigure tydens die sooispittery van Hentiesbaai se versorgingsoord. Van links staan mnr. Pieter Gurirab, hoof uitvoerende beampte van die munisipaliteit, me. Gisela Cramer, burgemeester, mnr. Kotie van der Merwe, voorsitter van die komitee van die oord, me. Joey Jankowitz (suster Malan) en mnr. Danie Jankowitz, die argitek.
HENTIESBAAI het die plek vir ‘n langer lewe geword, sê die burgemeester, me. Gisela Cramer. Die klimaat is wonderlik, die lug is besoedelingsvry en gelaai met suurstof en die vog van die see. Die geleentheid was verlede week ‘n sooispitplegtigheid vir die eerste fase van ‘n versorgingsoord wat in die vakansieoord se sentrale sakegebied gaan verrys.
In die fase sal ‘n geskatte N$600 000 aangewend word. Die man wat die graaf met ‘n sierlint opgeneem het vir die eerste sooi, is mnr. Kotie van der Merwe, voorsitter van die projek en voormalige stadsklerk van Gobabis. ‘n Geskatte sestig mense, hoofsaaklik senior burgers, het die plegtigheid bygewoon. Voor die seremoniemeester, mnr. Jan Buys, was daar die ervaring van ‘n geskatte meer as drieduisend jaar van mense wat die land help tem het en nou hier kom aftree het.
Dit was ervaring wat aangewend is toe met die insameling vir die projek begin is. “Tot hiertoe het die Here ons gehelp,” het mnr. Buys feitlik biddend gesê. “Op die pad vorentoe sal Hy ons bystaan.” Maar vir die senior burgers was dit ook ‘n vervroegde Krismis in die herfsjare van hul lewens. Die wonder van die versorgingsoord het voortgeleef met nog skenkings wat juis dié dag erken is. Skaars ‘n uur voor die sooispittery het ‘n anonieme sakeman geskakel.
Hy gee honderd sakkies sement vir die boufase. Me. Joey Jankowitz (suster Malan) het vertel van die skenking deur ‘n besoekende Bolander. Dit is ‘n stoof, yskas en meubels vir die versorgingsoord. Peter Sander van die Cottage/MediClinic op Swakopmund het laat weet die versorgingsoord kan maar beddens en ander toerusting kom haal wat beskikbaar geword het met wysigings wat in die hospitaal aangebring word.
Erkenning is ook aan N$133 000 gegee wat van ‘n skenker met welsynsdienste as tussenganger van die staat gekom het. Al voorwaarde is dat daar met bouwerk begin moet word – vandaar die sooispittery. Nogtans is baie geld nog nodig en sal op die gebane weg van die versorgingsoord voortgegaan word. Alles was net nog skakels in die wonder van ‘n ketting wat met die erfkopery begin het. Ander sakelui het ook in die erf in die middel van die dorp belanggestel.
Op ‘n veiling het hulle egter ten gunste van die versorgingsoord teruggestaan. Toe het dit die Gideonsbende van Hentiesbaai in die skoot geval teen ‘n insetprys van N$150 000. Saam met die oordragkoste en rente het die N$150 000 opgestoot na N$186 000. Maar dit is alles betaal, volgens die argitek, mnr. Dirk Jankowitz. Hy het ook die verskillende fases geskets waarin die oord gebou gaan word.