TEEN ’n berdrag van N$25 miljoen of meer is twee van die belangrikste stukke geskiedenis van Swakopmund te koop, maar die erfenis sal nie sonder meer verander kan word nie.
Stoot N$15 100 000 of meer en die bestaande munispale kompleks word eie besit. En bied nog N$10 500 000 of meer by en die Altes Amtsgericht word ook joune. ’n Toegif kan die munisipale kompleks in die woonbuurt Mondesa teen nog N$2 800 000 word.
Die insetpryse is deur die Swakopmundse stadsraad bepaal met die komplekse wat in geslote aanbiedinge te koop is. Die kooptransaksies kan deurgevoer word wanneer Swakopmund se munisipaliteit na sy nuwe gebouekompleks gaan verhuis wat sentraal tussen die meeste woonbuurte langs die hoofweg na Hentiesbaai gebou word.
Bouers vorder merkwaardig met die nuwe kompleks waar die daken vensterfases reeds bereik is. Die nuwe tuiste vir die Swakopmundse munisipaliteit word teen meer as N$60 miljoen gebou.
Die ou hoofgebou van die munisipaliteit in die sentrale sakegebied beslaan 2 147 vierkante meter en die erf van die Altes Amtsgericht 3 173 vierkante meter. Die Mondesa-erf is met 5 485 vierkante meter die grootste.
Van die kopers gaan verwag word om self vir die koste van hersonering van die betrokke erwe na algemene besigheid in te staan.
Die bestaande munisipale kompleks en die Altes Amtsgericht is deel van Swakopmund se verklaarde bewaringsgebied. Veranderings en verbeterings sal net met die toestemming van die Nasionale Erfenisraad aangebring mag word. In die geval van die munisipale kompleks in die woonbuurt Mondesa sal die stadsraad moontlik herbesin.
Op die maandvergadering van die stadsraad is die moontlikheid vir heroorweging na die bestuurskomitee terugverwys.
Van die oorweginge vir die behoud van die Mondesa-kompleks is om munisipale betaalpunte naby senior burgers te hou.