
Godfrey Richter van die hengelklub Kingfisher met een van die galjoene wat die span die wenners van die eerste tussenklubse byeenkoms van die jaar gemaak het. Die grootste deel van die eetbare visse was galjoene.
’n EGPAAR van die hengelklub Kingfisher, Herman en Delita Krauze, het presteer deur die eerste plekke in die afdeling vir mans en vroue in te neem toe die eerste skof van die Namibiese klubkampioenskappe in Februarie afgehandel is.
Die kampioenskappe word oor vyf byeenkomste beslis. Die eerste ronde van die tussenklubse reeks is deur die hengelklub Kingfisher gewen. Herman Krauze het ook die beste onder die individuele hengelaars gevaar met sy 33 visse wat 209 kg geweeg het. Delita Krauze het die beste onder die vrouehengelaars gevaar met nege visse wat sy gevang het.
Die vangs van die dag was John-John Warrington van die hengelklub Welwitschia se kolhaai van 38,6 kg. Die haai wag nou op erkenning as ’n nuwe ope rekord vir Namibië. Die see was bra humeurig toe die 219 hengelaars by Myl 108 ingegooi het.
Die toestande was nie gunstig nie en die hengelaars van die twaalf klubs het maar gesukkel om ’n vissie aan wal te bring. Die vangs van die dag was 286 visse. Galjoen het vir die verrassing gesorg toe die dag se vangs ook 84 galjoene ingesluit het. Van die gesamentlike vangs was 176 visse eetbaar.
Die oneetbare visse het saam 626 kg geweeg en die gesamentlike vangste het die skaal op 798,9 kg getrek. Die swaarste eetbare visse van die dag was twee kabeljoue wat elkeen die skaal op 6,4 kg getrek het.
Die vangste is deur Ras van der Westhuizen en J. Visser van die klub Welwitschia behaal. John-John Warrington se kolhaai was die swaarste oneetbare vis. Herman Krauze (209,2 punte) van Welwitschia was die beste hengelaar van die dag gevolg deur Warrington (79,9 punte) van Welwitschia.
Henno Snyman (74,5 punte) van Penguin was derde. Die Kingfisherspan was eerste met 459,1 punte, gevolg deur Welwitschia (314,2) en Penguin (289,7). Onder die eetbare visse was galjoen die meeste, gevolg deur kabeljou (69) en ’n enkele steenbras.