24.07.2008

Een groot tuiste vir Swakop

© Anneli Erasmus
‘n Groot geleentheid met ‘n handjievol getuies. Die burgemeester van Swakopmund, me. Germina Shitaleni, spit die seremoniële eerste sooi van Swakopmund se nuwe stadhuis. Links van me Shitaleni slaan mnr. Kirby Mackintosh van die argitekte die sooispittery gade en regs van haar hou die goewerneur van die Erongo-streek, mnr. Samuel Nuuyoma en twee stadsraadslede, mnr. Peter Steinkopf en me. Prisvilla Kavita sake dop.
DIE sooi is gespit vir Swakopmund se nuwe stadhuis wat teen ‘n tenderbedrag van meer as N$61 miljoen opgerig gaan word. Saam met die voltooide lewering van dienste soos krag en water koers die ontwikkelingswerk in die omgewing van N$65 miljoen waarvan N$20 miljoen reeds in die huidige finansiële jaar deur die stadsraad begroot is.

Die kompleks sal eg Namibies wees met die konstruksiemaatskappy Le Bau as die suksesvolle tenderaar. Die ontwerp is deur die argitekte Mackintosh, Lautenbach en Vennote. Die ontwerp is koste-effektief en doeltreffend op operasionele vlak.

Die voorgeskrewe materiaal gaan die minste instandhouding verg en die ontwerp is getrou aan die Swakopmundse karakter. Dit behels onder meer ‘n dubbelverdieping, maar met die voorkoms van ‘n enkelverdieping. Met die omgewing is rekening gehou en die beeld van Swakopmund sal deur die gebou uitgedra word.

Tydens die sooispittery het die burgemeester, me. Germina Shitaleni, gesê die behoefte aan meer spasie vir die munisipaliteit is reeds tien jaar gelede uitgewys. Afdelings van die munisipaliteit lê nou versprei deur die dorp. Die ganse munisipale kompleks onder dak sal volgens haar tot beter diens aan die publiek bydra.

Die nuwe gebou sal die bestaande munisipale gebou vervang wat reeds in 1907 gebou is, asook die Altes Ampsgericht wat in 1906 verrys het. Die boutydperk van die kompleks word op dertig maande geskat, wat meebring dat die munisipaliteit teen die einde van 2010 in sy nuwe tuiste gaan wees.