17.5.2012
 Argiewe:

Erongo


Tuisblad-argief

15.05.12

Tuisblad van 15 Apr '12

14.05.12

Tuisblad van 14 Apr '12

11.05.12

Tuisblad van 11 Apr '12

10.05.12

Tuisblad van 10 Apr '12

09.05.12

Tuisblad van 09 Apr '12

25.08.2010

Dwarsklap vir drie dorpe

© Republikein
Mnr. Jerry Ekandjo
DRIE plaaslike owerhede van Erongo is hul status kwyt. Die drie plekke wat agteruit geboer het met ’n gevolglike relegasie van hul aansien, is Uis, Karibib en Usakos.

Die aantasting van die aansien van Uis, Karibib en Usakos is in ’n interne nota aan die permanente sekretaris deur die Minister van Plaaslike Owerheid, mnr. Jerry Ekandjo, aangekondig. In munisipale kringe word dit as ’n gewigtige slag in die aanloop tot die verkiesing van plaaslike owerhede teen die einde van November gesien.

Drie van die agt plekke wat deur die aankondiging geraak word, is in die Erongo-streek. ’n Statusverlaging is ook vir Karasburg aangekondig. Die vier dorpe wat met verhoogde status kan spog, is Ruacana, Aranos, Oshikuku en Otavi.

Uis se dorpsraad word nou die van ’n nedersetting en Karibib en Usakos se munisipaliteite word dorpsrade. Karasburg se munisipaliteit word ook die van ’n dorpsraad.

Ruacana, Aranos en Oshikuku en Otavi se status word verhoog na die van dorpsrade. Volgens die interne nota deur die Minister is die hergradering van die status van die dorpe noodsaaklik vir die volhoubare ontwikkeling van die gemeenskappe.

Hul nuwe status sal reeds met die November-verkiesings geld. Die magte wat die Minister van Plaaslike Owerhede met die stap uitgeoefen het, val volgens regsmening ook binne die raamwerk van die munisipale ordonnansie.

Navrae op munisipale vlak het die relegasie van die drie plaaslike owerhede in die Erongo-streek as ’n groot vernedering bestempel. Volgens een bron dui dit daarop dat die betrokke plaaslike owerhede nie in staat was om hul eie finansiële sake te bestuur nie en dat dit nou deur die Ministerie vir hulle gedoen sal word.

Die maandelikse vergoeding van lede van die bestuursinstansies van die plaaslike owerhede kan ook deur die statusverlaging aangetas word.