17.5.2012
 Argiewe:

Erongo


Tuisblad-argief

15.05.12

Tuisblad van 15 Apr '12

14.05.12

Tuisblad van 14 Apr '12

11.05.12

Tuisblad van 11 Apr '12

10.05.12

Tuisblad van 10 Apr '12

09.05.12

Tuisblad van 09 Apr '12

31.08.2010

Drankeuwels aan kus

© Jacques du Toit
Paramedici en verkeerspersoneel dra ‘n beseerde bestuurder na ‘n ambulanswa ná ‘n ongeluk op die pad tussen Swakopmund en Usakos. Die bestuurder van ‘n tweede vragmotor het ongedeerd daarvan afgekom.

ALKOHOL het tot woede gelei en woede tot bloed. ʼn Vrou van Walvisbaai, wat blykbaar onder die invloed was, het haar man die naweek glo herhaaldelik aan sy arms gebyt. So erg was dit dat die bebloede man die hulp van paramedici moes kry.

Ook op Walvisbaai het vier mense glo ook so diep in die bottel gekyk dat hul voete hulle nie meer kon dra nie. Paramedici moes ook die dronkies kom help.

Tussen Swakopmund en Hentiesbaai was dronkbestuur blykbaar die oorsaak van ʼn ongeluk waarin twee bakkies mekaar getref het. Niemand is ernstig beseer nie.

Op Swakopmund het alkohol blykbaar tot bravade gelei toe iemand onder die invloed oor die verkeersirkel op die Hentiesbaaipad naby die Vineta Shell-diensstasie probeer ry het. In nog ʼn alkoholverwante ongeluk op Swakopmund is twee mense beseer toe ʼn taxi en ʼn bakkie van Telecom in die middedorp gebots het.

Buite Swakopmund het ʼn mikrobus gerol ná ʼn band gebars het. Van die sewe insittendes, onder wie drie kinders was, is een ernstig beseer toe die momentum van die motor die kind by die venster uitgeslinger het.

ʼn Noue ontkoming tussen twee vragmotors, ook buite Swakopmund op die Usakospad, het een van die bestuurders met ernstige beserings gelaat. Die bestuurder wat ongedeerd daarvan afgekom het, vertel hy het agter ʼn bus gery toe dit skielik links van die pad afgetrek het. Voor hom het hy ʼn vragmotor in sy rylaan sien kom. Hy het sy vragmotor regs gepluk om uit die pad te kom, maar die aankomende vragmotor het hom op sy sleepwaentjie getref en hulle is van die pad af. Die aankomende motor het ongeveer eenhonderd meter van die pad tot stilstand gekom en die insittende is vir ernstige kopbeserings deur paramedici op die toneel versorg.