23.07.2008 Dorpe laat kus Shine
DIE drie dorpe van die Erongo-kus span sedert die begin van Julie saam om die ganse sentrale kusgebied skoon te maak. Die veldtog sal ses maande duur en behoort aan vakansiegangers in die begin van Desember skoon strande te verseker. Die veldtog is ‘n uitbreiding van Project Shine waarmee Swakopmund verlede jaar groot welslae op en langs die belangrikste hoofweg uit die binneland behaal het.
Die munisipaliteite wat vanjaar saamspan, is Walvisbaai, Swakopmund en Hentiesbaai. Die doel is om die ganse gebied van Sandvishawe suid van Walvisbaai tot by Hentiesbaai skoon te maak van bottels en ander vorms van besoedeling. Volgens die skriftelike doelstellinge sal die ganse gemeenskappe deur middel van nie-winsgewende organisasies in Project Shine 2008 ingeskakel word.
Kerkgenootskappe, skole, die dierebeskermingsverenigings en klubs kan inval en in die proses ‘n handige geldjie vir hul bystand losslaan. Benewens die munisipaliteite word die veldtog deur die uraanmyne in die Namib, Namport, die kusbewaringsinstansie Nacoma en verskillende toerismeverenigings ondersteun. Sterk finansiële ondersteuning kom van die Namibiese Brouerye.
Terwyl die veldtog gevoer word, sal ‘n bewustheid van die belang van omgewingsbewaring ook in skole tuisgebring word. Die ganse veldtog sal oor ‘n tydperk van ses maande gevoer word van vanjaar in Julie tot November en dan weer in Februarie 2009. In Februarie sal die program konsentreer op die herstel van die terrein wat in die groot vakansieseisoen in Desember en Januarie bemors gaan word.
‘n Afsluitingsbyeenkoms sal teen die einde van Februarie gehou word. Glas en ander bruikbare materiaal wat opgetel word, sal aan herwinningsinstansies op die drie kusdorpe verkoop word. Twee van die skoonmaakaksies sal wel vir die toegangspad tussen Arandis en Swakopmund en die Swakopriviergebied aangewend word.
‘n Strook van 50 meter sal van die see na die binneland skoongemaak word. Rommel sal na sentrale bergingspunte gebring word. Al die rommel wat vergaar word, sal geweeg en die gewigte aangeteken word. Ná die eerste skoonmaakaksie sal die gebiede weer vir nuwe rommelstrooiing nagegaan word. Die verskillende skoonmaakspanne sal elkeen ‘n strook van 7 km vir hul werk kry.
Die Walvisbaaise munisipaliteit sal vir die gebied vanaf Sandvishawe tot teen die Swakoprivier verantwoordelik wees. Walvisbaai sal ook vir die vergoeding van die instansies in sy sorg moet instaan. Elkeen van die skoonmaakspanne sal N$1 000 per maand kry.
Nog N$2 250 sal elke maand vir die skoonste strook (N$1 000), die tweede skoonste strook (N$750) en die derde skoonste strook (N$500) toegeken word. Tydens die Shine-dae sal koeldranke en T-hempies aan die deelnemers gegee word. Plastieksakke sal voorsien word. ‘n Groep wat hulle vir die beskerming van seevoëls beywer, sal gidsboeke oor voëls beskikbaar stel.
|