17.5.2012
 Argiewe:

Erongo


Tuisblad-argief

15.05.12

Tuisblad van 15 Apr '12

14.05.12

Tuisblad van 14 Apr '12

11.05.12

Tuisblad van 11 Apr '12

10.05.12

Tuisblad van 10 Apr '12

09.05.12

Tuisblad van 09 Apr '12

3.09.2010

Dit gaan soos dit wil op Omaruru

‘n ONRUSTIGE vrede rol op munisipale vlak op Omaruru voort in die aanloop tot die verkiesing van plaaslike owerhede teen die einde van November vanjaar. Die aanwysing van ‘n agtste stadsraadslid op ‘n dorp waarvoor die wet net sewe voorskryf rammel steeds. Terselfdertyd word die pionne rondgeskuif met die aanwysing van kandidatelyste vir die stadsraad.

In die wandelgange van die munisipaliteit en op straat is die aanstelling van nog ‘n “whizz kid” in die dorpsbestuur geselsgoed. Die slimmerd is Ephraim K. Katjatenja, ‘n man wat die betrekking van administratiewe beampte van die munisipaliteit aanvaar het nog voordat ‘n formele aanbod aan hom gemaak was.

Op 25 Oktober verlede jaar toe sê hy al ja, op 11 November verlede jaar word die aanbod eers aan hom gemaak.

Intussen draal die onttrekking van mnr. Gruzzi Isaac Goseb (Swapo) aan die stadsraad en die vervanging van hom met mnr. Phillip Nghipandulwa steeds voort. Die opdrag dat mnr. Goseb uit is en mnr. Nghipandulwa in is, het van Swapo se distriksraad gekom.

Mnr. Nghipandulwa is voorsitter van die distriksraad. Beweringe hou vol dat die stap nie in oorleg met Swapo se Erongo-streekraad met sy hoofkantoor op Swakopmund gedoen is nie. Die distriksraad word in die wandelgange daarvan beskuldig dat hy hom nie deur die streekraad laat voorskryf nie.

Wat tot die omstredenheid bydra, is beweringe dat die Swapo-streekraad skriftelik opdrag gegee het dat mnr. Goseb in ere herstel moet word.

Sou so ‘n opdrag wel gerig gewees het, is dit blykbaar gerieflikheidshalwe iewers verlê. Nog ‘n bewering is dat die Swapo-hoofkantoor in Windhoek opdrag gegee het dat woelinge op die vlakke van stadsrade op 18 Augustus bygelê moes wees. Op Omaruru het niks gebeur nie.

Mnr. Goseb self berus blykbaar nie by die verloop van sake nie. ‘n Bewering is dat hy ‘n regsmening ingewin het en dat die aangeleentheid glo selfs met die ombudsman opgeneem is.

Mnr. Nghipandulwa het nie net sy plek in die raad ingeneem nie, maar is sonder enige ondervinding van plaaslike bestuur onmiddellik ná sy beëdiging as stadsraadslid ook in die bestuurskomitee aangewys.
Rammelinge word ook oor die kandidatelys van Swapo gehoor. Mnr. Mike Tjirare, Omaruru se burgemeester en ‘n man wat polities hiet en gebied, kan blykbaar ‘n kandidaat vir die amp van streekraadlid word.

Die “whizz kid” Ephraim K. Katjatenja ken blykbaar salarisgewys ook sy storie. Die bestuurskomitee het op 23 September verlede jaar aanbeveel dat hy N$118 987 per jaar kry, maar toe kry hy sommer N$138 490 per jaar. Toegegee, die oorspronklike N$118 987 was glo onderhandelbaar. Die stadsraad vra ‘n graad 12-kwalifikasie. Toe beroem hy hom op ‘n mediakonferensie of –slypskool wat hy bygewoon het en sy woord word aanvaar dat dit eintlik meer as die hoogste skoolkwalifikasie is.

Nou gons die ganse Omaruru oor die man wat net nou die dag nog van nêrens was nie, maar nou blykbaar die munisipaliteit se enigste woordvoerder oor alle sake is.

Op Omaruru is dit nie duidelik waar die sous deur die sif geloop het met die aanstelling van die man met sy meteoriese vordering in die munisipaliteit nie. Verlede jaar op 25 Oktober het hy op skrif gegaan dat hy die amp van administratiewe beampte aanvaar met die wysigings soos wat bespreek was.

Sy vervoertoelae sal heroorweeg word, hy sal op 11 November 2009 diens aanvaar en hy sal munisipale huisvesting aanvaar totdat ‘n eie private blyplek bekom kan word. Sy brief van aanvaarding was aan die hoof uitvoerende beampte van die munisipaliteit, mnr. Werner Iita, en die burgemeester, mnr. Mike Tjirare, gerig.

Op 11 November is die amptelike werksaanbod eers aan mnr. Katjatenja deur die hoof uitvoerende beampte gemaak. Toe word die salaris sommer N$138 490 per jaar. Maar al word die aanbod op 11 November gemaak, kan hy maar as hy wil op 1 Oktober, meer as ‘n maand vroeër, diens aanvaar. Hy moet wel bewys van sy kwalifikasies kan lewer. Op daai einste 11 November sê mnr. Katjatenja sommer ja.

Nou gons dit op munisipale vlak oor die man wat soos ‘n verskietende ster boontoe beweeg. Oor huisvesting word beweer dat een van drie huise wat teen N$120 000 opgeknap was, hom beskore was. Sy plekkie is blykbaar volgens voorskrifte met hoekies en noekies ingerig.

Geld was glo nie ‘n kwessie by ‘n munisipaliteit wat reeds volgens beweringe op 77 begrotingposte oorbestee het nie. Nou wie sal eintlik omgee as volledige finansiële verslae glo nie voorgelê word nie.

In die strate van Omaruru word nou verkondig mnr. Katjatenja is ‘n mediaman met die beste kwalifikasies. Hy het glo ook sterk bande met die burgemeester en die hoof uitvoerende beampte. Nuwe hooi op sy vurk is glo dat hy die enigste woordvoerder van die stadsraad is. Laat iemand net ‘n vraag vra oor wat in die munisipaliteit aan die gang is, dan rol sy kop.

Woon hy ‘n slypskool in Windhoek by, bly hy ‘n bietjie langer om Omaruru se sake te bevorder. Nou word beweer ‘n bykomende dag se reisgeldjie het daarvoor ingestaan. Sy kom- en gaantye en inval en uitval by die munisipaliteit mag blykbaar ook nie bevraagteken word nie.