24.07.2008
Die silwerdoek wink weer vir Gallowwalker
DIE omstrede rolprent Gallowwalker het blykbaar tydelik aan die galgtou ontkom. Wesley Snipes, die hardgebakte ou in die hoofrol, sê net finale afronding moet in Londen aan die fliek gedoen word. Sou dit waar wees, sal dit ‘n einde maak aan Hollywood se skinderbekstories dat Gallowwalker nooit vertoon gaan word nie.
Een van die redes daarvoor is dat Snipes vir belastingontduiking skuldig bevind is en drie jaar tronkstraf opgelê is. Volgens Snipes se regsverteenwoordigers duur die stryd teen sy vonnis voort. Nou het ‘n wending ingetree. Regter William Terrell Hodges het Snipes se versoek toegestaan om Londen drie dae te besoek om die finale afrondingswerk aan Gallowwalker te doen.
Verlof is ook aan hom verleen om Thailand toe te gaan waar hy vir agt weke in ‘n film, Chasing the Dragon, gaan optree. Snipes se aansoek voor regter Hodges is deur die regspan vir die staat teengestaan. Hulle het aangevoer ‘n moontlikheid bestaan dat hy nie na Amerika gaan terugkeer nie.
Ná sy aanvanklike skuldigbevinding en vonnis van drie jaar is Snipes toegelaat om sy borgtog te verleng terwyl sy regspan aan hul appèlsaak werk. Snipes is daaraan skuldig bevind dat hy sedert 1999 sowat N$280 miljoen verdien het, maar nie belastingopgawes ingedien het nie of belasting ontduik het. Die 45-jarige akteur het roem verwerf vir sy optredes in prente soos White Man Can’t Jump en die Blade-reeks.
Die dag waarop Snipes gevonnis is, het sy regspan tjeks vir sowat N$40 miljoen aan die Amerikaanse belastinggaarder oorhandig. Die regspan wat hulle op sy appèl voorberei, voer aan die regter het verskeie foute voor en ná Snipes se veroordeling in Februarie gemaak. Die grootste deel van Gallowwalker met Snipes in die hoofrol is verlede jaar in Namibië met Swakopmund as basis verfilm. Tydens sy verblyf was hy ook ‘n bekende in die kuierplekke van Walvisbaai.