24.02.2010 Die onsigbare tien op Jakkalsputz
 Nog reste van die Desemberseisoen op Jakkalsputz? Van die beloofde rushuise op die gewilde kampeerplek is daar nog geen teken nie.
DIE eerste tien rushuise van die strandkampeergebied Jakkalsputz suid van Hentiesbaai, is ruim, gerieflik en met ’n stoepie, maar onsigbaar. Tungeni Africa, die ontwikkelaars van Jakkalsputz, sê die nuwe geriewe staan al daar. Maar waar? Die aankondiging van die tienling as toevoeging tot die verwaarloosde toiletkroos van Jakkalsputz is op 1 Januarie deur Tungeni Africa aan Travel News gedoen.
“Ten bungalows have been built at Jakkalsputz as part of Tungeni Africa Investments plan to provide more value for holidaymakers to the company’s three coastal resorts.” Dis nou Jakkalsputz, plus Myl 72 plus Myl 108. Op Donderdag 4 Februarie is Jakkalsputz besoek om in die blye dag van die tien rushuise op die oord van die vistermanne te deel.
Die verkondigde tiental behoort maklik gevind te word danksy die beskrywing van die geriewe wat ook deu r Tungen i aangekondig is. Dis plekke wat 20 vierkante meter beslaan en wat oor ’n sitkamer, kombuis, slaapkamer en badkamer met stort - en toiletgeriewe beskik. Die plekkies is met aluminiumpanele met isoleermateriaal saamgeslaan en die buitewande bestaan uit houtpanele.
Elke rushuis staan op ’n houtdek. Op die dek het elke huisie sy eie veranda. Mooi het nog nooit so mooi geklink nie. Maar op Jakkalsputz was mooi nog nooit so niks nie. En sê Tungeni: Nog opknapping op Jakkalsputz behels die herstel van gebreekte eiendom, ’n nuwe verflaag en die skoonmaak van die "vryvaltoilette".
Ná die eerste tien gaan nog vyftig sulke rushuise op Jakkalsputz gebou word. Die opgraderingsprogram by Myl 72 en Myl 108 is ook volvoer. Die twee kampeergebiede wag op die vakansiegangers. Myl 108 se brandstofprobleem is opgelos. Vanjaar kan besoekers maar kom volmaak. Sonder verdwaal is na Jakkalsputz gery.
Hier moet jy stilhou, word by die valhek op die Donderdagoggend verkondig. Maar daar is nie ’n siel in sig nie. Al lewe op Jakkalsputz was ’n oornagkampie van veldfietsryers met hul ysters en een kampeerder met ’n tentehuisie met al die nodige geriewe. Eers is tot op die eindpunt van die noordbank op ’n sukkelpaadjie aangekruie.
Waar sinkplaat nie gedreig het om die nuusmotor van die spoor te skud nie, het sandbanke ’n bedreiging van vasval ingehou. Al lewe was twee senior burgers wat bra traag hul visstokke van ’n bakkietjie gehaal het om rustig in te gooi. Dan is dit terug op die dienspad, maar nie alvorens by een van die toilethuisies aangedoen is nie.
By die kant vir mans is ingedwaal op die weg van alle vlees, maar daar is uitgestorm. Dis nie ’n plek waar ’n ou sy ding kan doen nie. Sonder ’n siel in sig is aan die vrouekant ingeglip. Daar was die geriewe sit-sit so. Dan is dit terug tot op die suidpunt verby die nagkampie van die veldfietsryers en die gesin met hul tentehuisie.
Oral het reste in ashopies en verslete kartonhouers getuig van ’n seisoen wat verby is. Vreemd in die rommelhopies om vuurmaakplekkies met los stene was die baie leë dampies van ’n buitelandse bierbrouery. Onskuldig is afgelei dat dit maar die laaste aanbod van die vakansieseisoen in die kampwinkel was. En snaps. By gebrek aan water… Op die terugtog is die kantoorblokkie by die ingang weer aangery.
By die storthokkies het een van die veldfietsryers met ’n handdoek oor sy skouervan badplekkie na badplekkie beweeg. Soek seker een met warm water of ’n stortkop of selfs water, is gemeen. By die kantoor self het die bodeuroopgehang. Binne was nie ’n mens nie. ’n Vrieskas se deksel was oopgeklap en ooglopend in onbruik. Die winkelrakke het nie ’n beduidenis van voorraad gehad nie.
Dit het wonder oor die kantoorure op ’n Donderdagoggend laat ontstaan. Maar op die buitewand van die geboutjie het dit in vryhand opgeskryf gestaan. Die ure is reg, net die mense ontbreek. Met die wegstap motor toe het ’n man uit die verte aangestap gekom.
Oor ’n aansienlike afstand het hy geskreeu: “Hallo!” En hy het beduie dat op hom gewag moet word. Die man in ’n T-hempie van Namibia Wildlife Resorts het gegroet en gevra of hy kan help. Sommer daar op die vlakte. Daar is na die tien rushuise gevra. "Nee," sê hy.
Hy weet nie van tien nuwe bungalows nie. “Dis die koerante se goed daai. Miskien vanjaar. Ek wag maar. Ek kyk ook maar die koerante.” En die winkel? "Die winkel is net in die Desemberseisoen oop," sê die man in die NWRhempie. Tungeni Africa Investments? Klink bekend. ’n Dikke lêer en die rekenaar vertel meer.
Dis die manne wat op 23 Januarie verlede jaar aangekondig het dat dié beleggingsmaatskappy van Afrika N$6,6 miljoen vir die opgradering van Jakkalsputz, Myl 72 en Myl 108 gaan belê. Die oorde is die vorige jaar in Julie 2008 by Namibia Wildlife Resorts oorgeneem.
Daai dag het die besturende direkteur van Tungeni, Iyaloo ya Nangolo, gesê die volle potensiaal van die drie oorde gaan vir besoekers in die spits- en ander tydperke van die jaar ontsluit word. Die bestedingsplanne het welig gegroei.
In Februarie 2009 is aangekondig dat Tungeni N$456,6 miljoen in die drie oorde plus die Von Bachdam gaan belê. Planne vir die oorde is selfs as “opwindend” bestempel. Die pad terug Swakopmund toe koers by Myl 14 verby. Die motorvenster word oopgedraai en daar word in die rigting van die gewilde kamp van jare gelede gesnou: “En van jou praat ek nie eens nie.”
|