17.5.2012
 Argiewe:

Erongo


Tuisblad-argief

15.05.12

Tuisblad van 15 Apr '12

14.05.12

Tuisblad van 14 Apr '12

11.05.12

Tuisblad van 11 Apr '12

10.05.12

Tuisblad van 10 Apr '12

09.05.12

Tuisblad van 09 Apr '12

23.08.2010

Brandweermakietie by kus

© Anneli Erasmus
Die Minister van Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling, mnr. Jerry Ekandjo, by mnr. en me. Philipus Namalemo by die onthulling van die naamplaat van die nuwe Swakopmundse brandweerstasie. Die stasie is na mnr. Namalemo vernoem.

’n NUWE munisipale brandweerstasie wat met meer as N$8 miljoen van Swakopmund se belastingbetalers opgerig is, is deur Swapo gebruik om sy verkiesingsveldtog vir plaaslike owerhede op die vakansieoord te loods. Dit het ’n gebou in omstredenheid gedompel wat bestem is om ook as opleidingsentrum vir brandweermanne van Namibië te dien.

Die amptelike opening Vrydagoggend was ’n plek waar die Minister van Visserye en Mariene Hulpbronne, mnr. Bernard Esau, met ’n Swapo-serp om sy nek as voorsteller van die spreker, Minister Jerry Ekandjo van Streek- en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling, opgetree het.

Die verrigtinge is met Swapostrydkrete van “One Namibia, one nation” en “Aluta continua” deurspek. Mnr. Ekandjo self het die oë laat rek toe hy gesê het dit gaan goed op dorpe waar vroue die burgemeesters is. Toe noem hy net Swakopmund en Walvisbaai as kusdorpe, maar verswyg Hentiesbaai waar ’n nie-lid van Swapo, me. Gisela Cramer (Inwonersvereniging), die burgemeester is.

Die Swapo-krete is met prewelinge van ’n gehoor beantwoord, maar ook deur die bekende loeiende vroue. Agter die skerms is verneem dat die amptelike opening van die brandweerstasie vir Heldedag op 26 Augustus beplan was.

Toe word dit vervroeg na 20 Augustus, die laaste dag van die “optogverbod” in Namibië. Minder as ’n week tevore is ’n RDP-optog deur die strate van Swakopmund deur die polisie verhoed. Dit is ook bekend dat die brandweerstasie oorspronklik die Swakopmund Fire Station sou heet.

Toe word selfs die naam op die wand van die vooraansig afgehaal en word die naam Philipus Namalemo daaraan gegee. Die 85-jarige mnr. Namalemo en sy vrou was self teenwoordig op eresitplekke. Hy was die voorsitter van die Swapo-tak op Swakopmund in die sogenaamde bevrydingstryd.

Op Swakopmund is die ongelukkige jare in die landsgeskiedenis ook deur ’n bom in ’n restaurant/bakkerykompleks gekenmerk. Dit is ook bekend dat die brandweerstasie nog nie naastenby klaar is nie. Die plek is nog oorwegend sonder meubels en van die bykomstighede van ’n brandweerdiens moet nog aangebring word.

Op die ganse byeenkoms is geen melding gemaak van die Schutztruppe wat aan die begin van die vorige eeu as vrywillige brandweermanne op Swakopmund diens gedoen het nie. Ná hulle is die brandweerstasie deurlopend deur vrywilligers beman met twee voltydse brandweermanne wat met die opening van die Philipus Namalemo-stasie in diens van die munisipaliteit was.

Vrydag was ook die tweedelaaste werkdag van die huidige brandweerhoof, mnr. Tony Moller. Hy lê vandag die tuig neer nadat hy ’n betrekking op Rosh Pinah aanvaar het. Mnr. Ekandjo het in sy openingsrede beklemtoon dat die brandweerstasie ten volle deur die munisipaliteit van Swakopmund gefinansier is. “Dit is ’n bewys dat die brandweerstasie die eiendom van die mense van Swakopmund is,” het hy gesê.

Mnr. Ekandjo het ook gesê die nuwe brandweerstasie sal as opleidingsentrum vir noodpersoneel deur die ganse Namibië gebruik word. ’n Ooreenkoms word nou met die Politegnikum aangegaan vir die opleiding van gegradueerdes wat hul praktiese werk hier gaan doen.

Dit sal ook as opleidingsentrum kan dien vir vuurvegters van die ontluikende myne in die nabyheid van Swakopmund. Die sentrum sal vir twintig studente voorsiening maak. ’n Biblioteek sal ook vir hul studieveld ingerig word.