19.08.2010 Blink toekoms wink vir vis
 Een van die MFV Jupiter se bemanningslede verduidelik aan die Minister van Visserye, mnr. Bernhard Esau, hoe Namsov se groot boot werk. Regs is die Erongo-streek se goewerneur, mnr. Samuel Nuuyoma, en langs hom is Namsov se bestuurshoof, mnr. Jan Arnold. Die Jupiter kos sowat N$200 miljoen.
NAMSOV doen sy deel om Namibië se vishulpbronne eg Namibies te maak deur sy verskeie ondernemings. “In reaksie op die Ministerie se teiken van ’n Namibiese karakter vir die midwatervlootbemanning het Namsov groot begrip getoon deur die opleiding van Namibiërs by NAMFI en om terselfdertyd van hierdie gegradueerdes in diens te neem,” sê die Minister van Visserye, mnr. Bernhard Esau.
Hy het opgetree tydens Namsov se twintigte verjaarsdag waar hy die groep geloof het vir die bydrae wat hulle tot Namibië se ekonomie maak.
“Ons besef die internasionale belang van ’n waterbouery en ondersteun die Ministerie se inisiatiewe om ʼn waterbouery in Namibië te vestig,” het die besturende direkteur van Namsov, mnr. Jan Arnold, gesê.
“Die toekoms van visserye in Namibië bly blink. Hoewel daar nog sektore is waar ingrypende verbeterings aangebring moet word, bly ons optimisties en toegewy aan die nywerheid,” sê mnr. Arnold.
Hy sê Namibië se natuurlike hulpbronne van die see is goed opgepas, sonder enige besoedeling van ʼn groot stad met net beperkte myn- en booraktiwiteite wat skade kan veroorsaak. Voor onafhanklikheid was Namibië se midwatersektor oorheers deur buitelandse skepe en -bemanningslede hoofsaaklik van Rusland en die Oekraïne.
Onmiddellik ná onafhanklikwording het die regering ʼn beleid neergelê met die klem om Namibië se hulpbronne van die see die land se eie te maak. Om dié rede is Namsov gestig met ’n gelyke aandeelhouding tussen Namibië en Rusland.
Namsov het ook die Namsov Gemeenskapstrust (NGT) gestig met tien persent aandele in Namsov. Met die dividende wat NGT afwerp, word bydraes gemaak tot mense en gemeenskapsprojekte en tot op hede is ʼn totale bydrae van N$28 miljoen gemaak.
Namsov se bemanning bestaan ook uit 436 Namibiërs. Mnr. Arnold het die Ministerie van Visserye bedank vir ’n visvangomgewing wat goed bestuur word. In die verband geniet die regering die volle ondersteuning van Namsov.
|