11.03.2010 Blink stadion te lig bevind
DIE hoop het weer beskaam dat die vergete stadion met sy tartanbaan by die Swakopmundse sentrale sportkompleks in die woonbuurt Vineta uiteindelik tot sy reg gaan kom.
Die Coca-Cola nasionale skole-atletiekkampioenskap (baan en veld) gaan nie meer op 26 en 27 Maart op die stadion aangebied word nie. Dié keer is die verskoning deur die Nasionale Skolesportunie dat Swakopmund nie oor genoegsame huisvesting vir al die deelnemers beskik nie. Windhoek sal nou weer die saamtrekpunt van die grootste skolesportkompetisie van die jaar wees.
Die byeenkoms is by Swakopmund weggeneem, hoewel ’n definitiewe basis in Windhoek nog nie seker is nie. Die Windhoekse Onafhanklikheidstadion word nou as moontlike tuiste vir die nasionale kampioenskap genoem, maar probleme kan met die veldnommers ontstaan. Die grasdekking van die veld was teen druktyd nog nie gereed vir so ’n groot saamtrek nie. Daarmee kan glo wel ’n plan gemaak word.
Die amperse lagwekkende rede wat vir die verskuiwing van die byeenkoms na Windhoek aangevoer word, is dat Swakopmund nie oor genoeg huisvesting vir so ’n groot saamtrek van sportlui en hul ondersteuners beskik nie. Dit terwyl die vakansieoord oor die volle Desemberseisoen ’n toeloop van duisende binnelanders ondervind.
Verlede jaar was die private skool Pro-Ed Akademie van Swakopmund die gashere vir die jaarlikse sportsaamtrek van Namibië se private skole. Volgens die plaaslike organiseerders van die byeenkoms moes voorsiening vir sesduisend of selfs baie meer besoekers gemaak word.
Op Swakopmund en onder besoekende skole staan verlede jaar se byeenkoms steeds as ’n hoogtepunt wat deur ’n handjievol ouers en organiseerders bereik is. Gras is spesiaal vir die byeenkoms van private skole geplant. Verbeterings wat aangebring was, het gou na die byeenkoms begin kwyn.
Die Swakopmundse stadion beskik oor die enigste tartanbaan in die land buite Windhoek. In die toerismebedryf is beweringe dat Swakopmund nie oor genoeg huisvesting beskik nie, as lagwekkend afgemaak.
Intussen word die geriewe by die nuwe stadion vanjaar vir atletiekbyeenkomste vir kus- en naburige dorpe gebruik.
|