23.07.2008

Arandis reg vir uraanstorm

ARANDIS is besig met die ontwikkeling van twee lappe grond waarop vyfhonderd huise en ander geboue kan verrys vir die toestroming van mense met die uraanstormloop in die Namib. In die ontwikkeling word ook voorsiening gemaak vir die koms van Chinese.

Die hoof uitvoerende beampte van die munisipaliteit van Arandis, me. Florida Husselmann, het gesê die een stuk grond kan vir ‘n geskatte tweehonderd huise gebruik word en die ander sal vir 290 huise en ander geboue voorsiening maak. Hoewel die huise hoofsaaklik vir mynpersoneel gaan wees, word van private ontwikkelaars verwag om dit te bou.

In dié stadium bestaan ‘n dringende behoefte aan huisvesting vir Uramin-personeel. Die myngroep konsentreer op die gebied om die Kleine Kopje. Volgens haar is dit bekend dat Uramin Arandis en Swakopmund as basis vir hul werkers wil gebruik. Die eksplorasiespan van China soek in die rigting van die Spitzkoppe na uraan. Die Chinese het reeds van sy werkers op Arandis gewerf.

Saam met die koms van die Chinese is daar ook ‘n ontwikkeling van ‘n handelshuis vir konstruksiemateriaal deur ‘n Chinese instansie op die dorp self. Die groei van Arandis het volgens me. Husselmann reeds gelei tot die toetrede van ‘n handelsbank met ‘n volwaardige tak op Arandis. Bank Windhoek het ‘n perseel gehuur en dit ombou in ‘n handelsbank waarvan die deure op 1 September gaan oopswaai.