23.07.2008

Al bewende in wêkshop se rookwalm


OM te te, of nie te te nie. Dit was William Shakespeare se gevleuelde woorde toe hy nog ’n beesboer van Gobabis was. Op ’n wêkshop hier op Swakop waar die governor die "natural air con" oopketel laat loop, word dit toe om te bewe, of nie te bewe nie. Om te rook, of nie te rook nie. Nie Shakespeare nie, maar waarmee die Nasionale Raad se lede hulle vroegoggend in die Stasiehotel op Swakopmund besig hou.

Eers word daar gedebatteer of selfone afgeskakel moet word, of kan dit maar op bewe gesit word? En dan word daar gedebatteer oor rook wat in die saal uit is soos koekies in ‘n weeshuis, maar mag daar darem buite gerook word? Asseblief! Dis erger as skoolkinders. Dis tog sekerlik nie die eerste keer dat lede van die Nasionale Vergadering om ’n tafel vergader vir’n wêkshop nie? Die huisreëls behoort darem nou al redelik standaard te wees.

Of is dit ’n watertrappery om die tyd om te kry, want dis Maandag en Vrydag lê ver. Die S&T is in die gatsak. Al wat oorbly, is om die tyd om te kry.

Sien jou !

Maar so van "nie te te" gepraat en spesiaal vir die besoekende fat cats aan die vakansieoorde. En daar kom sommer baie, hulle hou van die see. Daar word nie op die sypaadjies gerek en gestrek wanneer daar in die swart pakke eers om halftien die oggend uit duur herberge verskyn word op pad na die blink GRNs wat wag nie. Die hêf nots sien julle.

Taai teer

Hier neffens by my buurman word daar al weer gekonkel. Dis weer pure "oom se oom" se goed. Ek het nou al gehoor van mense wat petisies opstel oor strate wat hulle geteer wil hê, maar nog nie van inwoners wat kwaad is as die dorp se strate wel geteer word nie. Nou sit Hentiesbaai se Jeremias met hul voetjies in die soutwater. Dis ‘n klaaglied vervul met droefheid. En die ou wat op sy oom se skouer huil, is niemand anders as die nimlike neef Paulus nie.

Hentiesbaai se hoofstraat word geteer, klink dit tussen die snikke deur op. Kon die geld nie beter gebruik word nie? Het Paulus se geheue hom vir 'n wyle heeltemal gelos? Die raadsbesluit oor die teer van die hoofstraat is dan geneem toe hy nog knus in die bourgemeister se stoel gesit het. Hoekom het hy nie toe ’n lawaai opgeskop nie? Maar die mense van Omdel sê as jy in jou watertjies is, tree geheueverlies in. Weet self nie mooi wat dit beteken nie, maar dit het dalk iets te make met 'n nat pad wat 'n ou 'n burgemeestersketting kan kos.

Geld se "master"

Hier in die sakelys van Swakopmund se stadsraad word gelees van 'n "director of ceremonies" wat tydens 'n burgemeestersdinee gaan optree waar geld vir Germina se Kersete vir senior burgers ingesamel gaan word. Nou daai "director "gaan 'n volle N$6 200 vir die aand se optrede kry. Nou wie sou dit kon wees wat so 'n geldjie vir 'n uur of twee gaan losslaan?

Sylvester Stallone, Brad Pitt, of dalk Robert Mugabe? Dalk sou onse Johnny dit sommer "on the house" gedoen het. En raai wie het vir die sooispittery van Swakopmuind se nuwe stadhuis net betyds vir die vreetsessie opgedaag?

Botswana blues

Maar so op die gebied van stadsraadsake. Hierdie Civics van Hentiesbaai se storie trek nou al ver. Dis nou die niepolitieke ouens wat aan 'n politieke onderonsie met stadsraadsverkiesings deelneem. Daai nie-politieke Civics het nou in koalisie 'n meerderheid in die stadsraad geword.

'n Piet van Karibib sê dié dorp wil ook so maak. Sonder vrae oor hul politiek gaan 'n lysstelsel saamgestel word van Karibibbers wat werklik vir die dorp omgee en weet hoe om dorpsake te hanteer. Swakopmunders kan gerus kennis neem. Dan kan kundige mense gekies word wat Botswana al gesien het.

Stertjie

Net soms is daar 'n stertjie met 'n traan. In Suid-Afrika het 'n legende gesterf. Mike Schutte, die man wat die ganse Suider-Afrika met 'n glimlag laat beweeg het, is dood. Bokser, rofstoeier, maar by uitstek 'n mooie grappieskampioen. Ons bring hulde en ons deernis met 'n glimlag.

Dis hoe hy dit wou hê. Soos sy storietjie van sy kuiertjie by die see. Dis warm en Mike besluit om in die see te gaan afkoel. Maar daar is bloublasies in die water. Met sy uitkomslag kla hy oor die rokers wat hul sigaretstompies in die water gooi.

Anneli Erasmus