
Des Erasmus
IN ’n snoesige koffiekroeg in een van Swakopmund se stegies sit ’n bekkige Kapenaar. In ’n babbelparade lyk dit of hy wil brom oor die Boland. Op die berge lê daar sneeu en daar’s ’n winterwind wat aanhoudende reënvlae oor die deurweekte landskap waai. Dis so al of hy aan beter gewoond is, want buite sif die Swakopmundse mis in so ’n glibberige natheid sonder reën.
So amper vra ek hom: “Spog jy of kla jy?” Die sneeu gaan nog af, maar vir ’n Namibiër trap hy oor die tou met sy prysinge van die Bolandse berge. Dit geld veral die stukkie waar hy vertel hoe daar nog luiperds in die Bolandse hoogland skuil. Nou die dag is een deur ’n vragmotor op ’n teerbaan deur een van die vele klowe doodgery. En ek meen dis tyd om wal te gooi.
Ceres se sneeuberge is nie nuus nie. Het selwers al daar ’n sneeuman gebou en ’n geliefde met ’n sneeubal gegooi. Laggend het ek opgekyk en ’n sonkol in die wolke gesoek. Dit was geoefende hande, want doer in die Aus-geweste het die sneeu ook al op plekke palmdiep gelê. Maar die berge? Ken die besoeker van die Namibiese berge, veral die berge van die Erongostreek?
En dit smaak my ek moet hom nooi om saam te kom op my trippie van 4 Julie, die dag wanneer die Amerikaners hul nasionale dag vier. Sommer hier padlangs lê die Rössingberg. Op die oog af nie veel nie, maar dis die heuwelland waaroor die buurman die groen baadjie gedra het. Dit was hier waar Angelina Jolie haar fliek gemaak het. Jaloesie oor die skone kind wat hier kom werk en later weer kom kuier het om ma te word, het soos ’n duif oor die Gariep gevlieg.
Dis die Rössingberg waaroor die kunstenaar Peter Downing gesê het: “Ek het duisende kere daar verby gery. En nooit het die berg dieselfde gelyk nie.” Maar skuif op die dag aan in die rigting van die Spitzkoppe sodat ek kan wys hoe mooi die Namibiese winter ook kan lyk. Dis nou die 4 Julie waarop die weerkantoor se fronte verdwaal en mis en wolke oor die grensgebied van die Namib gestoot het.
Ry die oggend daar verby. ’n Misbank het die pieke van die Spitzkoppe en die Pondokberge tot net bokant hul voetstukke afgesny. Met die onthoofding is die skatte van ’n onbekende woesteny blootgelê. Dis akwamaryn, toermalyn en ander kosbare smarag van die aarde. Dis die ryk kloste wat versamelaars en fortuinsoekers met hul pikke en grawe na die berghange bring.
Maar kom dieselfde middag terug daarlangs. Weer het die berg verander. Die kappie is terug op die koppe geplaas, maar in ’n voortdurende skepping is met die kaleidoskoop gespeel. Dié keer hang swaar winterswolke oor die kruin. Een enkele berg op een en dieselfde dag, maar twee aangrypende tonele. Of laat daar dan aangestoot word na die Erongoberge.
Dis Namibië se olieberg, want volgens oorlewering is van die dieper holtes gevul met die kosbare brandstof waaroor wêrelde in botsing kom. Vra maar die bokwagters. Hulle ken die storie. En oor die hoogste hange hang daar op dié dag ’n sagte wolkkombers. Aan die besoekers van die Kaap is dit groetnis aan Tafelberg met sy kleed. Teen die voetenent van die reeks kleef ’n lint van sagte blou soos die hartseer in haar oë. Want dit is die Meester wat op die dag die kwas en verf opgeneem het vir studies waarvan die moderne kuns net kan droom.
Dit terwyl daar druppels soos trane teen die voorruit van ontwikkeling kleef. Of laat daar aangestoot word na Uis met sy Brandberg. Hier staan die jagverhale en lewensketse van ’n voorgeslag nog opgeteken in die rotskuns van die berg. Voordag met sonop word die ganse kleurbord van die Meester hier uitgestal teen die kalkligskerms van menswees. Maar laat die Bolander weer kom kuier.
Dan word die reis voortgesit na die Tsaris-berge met sy tepelkop, die jonkvroubeeld van die Omatako’s en die newels wat op ’n snikhete dag oor die Karasberge hang. Intussen is daar groetnis aan die Tafelberg waar Van Donk en die duiwel saam hul stopsel gerook het. Namibië se berge se longe is nog skoon.