|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
22.02.2012 Tyd vir meer anties uit roos en graniet?
“ VROULIKE avonturiers,” vang ou Dapperrerige Daniëltjie se oog die ander dag een van die toptien lysies wat die media gebruik vir so ’n ekstra titseltjie leesavontuur.
En nie van nommer een tot onderaan erken ons uit die kop ’n enkele naam nie. Met die naslaan eers blyk dit ons ken darem vir Gertrude Bell. Skrywer, reisiger, politikus, administrateur en argeoloog, wat as een van die min Westerse ambassadeurs wat die Arabiese wêreld positief onthou boaan dié heldinneparade staan. Dan kom Mary Kingsley, Kira Salak, Louise Boyd (eerste op die Noordpool), Nellie Bly (eintlik joernalis Elizabeth Jane Cochran wat om die wêreld gereis het), Freya Stark wat die Midde-Ooste platgery het, Harriet Chalmers Adams (Suid-Amerika, Asië en die Stille Oseaan se eilande was haar oester), bergklimmer Annie Smith Peck en Lady Hester Stanhope. Hoe groot die avontuur ôk al, kan ou Dapper nie anders as om oor die wie en hoe agter die leliewit lysie te wonder nie. Op nommer agt is dit net Gudrider, ’n Yslandse vrou wat ontvoer en as slaaf in Algerië verkoop is voor sy later na Denemarke geneem is, wat ’n man wil laat sug: Aha, dit is darem nou nader aan die groter klas van avontuur waarmee ons vroue van alle vastelande gelyk kan opweeg! Op hierdie regterbreinskrywer se lysie sou hy minstens vir tannie Rosa Parks wat so hardekwas oor haar plek op die bus was, ant Albertina Sisulu en ’n klomp ander Evas van Afrika en selfs ons eie land bygevoeg het. (Toegegee – tien reëls sou daarvoor nie naastenby genoeg wees nie. Ook nie eens ’n hele honderd nie?) Met die kongreskoors wat week vir week al warmer brand, is daar reeds baie stemme wat vir ’n eerste vrouepresident vir Namibië opgaan. Tyd dat die anties dus vasvat, maar nie met onderduimse Bookface- en ander veldtogte nie, het die president klaar gewaarsku. Of is dit soos met kinders ’n geval van hoe meer jy berispe, hoe minder sien hulle die sin in oorpreutse vermanings? Sommige moeders kan indien nodig ’n terugkeer uit die aftrede maak. Wat ook al die beste vir die land is. En dié vasvat is okkie net in die “governing paartie” nodig nie. Miskien sal dit elk geval juis beter gaan as daar buite eie laer ook na tannies (en oompies) gekyk word wat nie dieselfde streeppakke en -serpe dra nie. Avonturiers hou nooit op droom nie... Dikwels is leiers met ietsie van roos en graniet beter opbouers en vredemakers? Die anties se hernude beywering vir die ontduikende 50/50-stelsel klink ook goed. Maar dan moet leiers nie, soos dikwels die geval is, ook hul werk 50/50 doen nie. Ongeag geslag, natuurlik. Voorvat, anties. Slaan die swepe van verandering! Naskrif: Daniëltjie wil sommer ook hier namens al ons Arampies baie dankie sê vir al die “gewone” vroue van orgidee en staal. Dié met wie ons getroud is, saam bly, bevriend is of werk. Dit is eenvoudig omdat hulle nie erken word nie, dat daardie 50/50 ewig ’n hersenskim bly? |