|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
27.01.2012 Tyd om die ronde bol onder die voete te laat rol
HIERDIE bek hang nog steeds wyd soos ’n waenhuisdeur oop.
Amper so erg soos die ooglede laat Woensdagaand. Maar elke sekonde van die wakkerbly was dubbel en dwars die moeite werd. Dit omdat swaar reën die skouspel lank vertraag het – nog voordat die finale “Nasionale Bliksemstraal” oorverdowend in Ekwatoriaal-Guinee se Estadio de Bata geslaan het. En toe het dit nie meer gereën nie, gahôr! Kaboem, moker die gasheerspan se Iban (Randy) Iyanga (soos ’n Rambo uit die naam van daai destydse Afrikaanse bęnd) in die 62ste minuut met sy kop die bal in die net van beweerde Afrikareus en een van die gunstelinge vir onse vasteland se Nasiesbeker, Senegal. Knap 10 minute voor die eindfluitjie maak Moussa Sow gelyk, al reken Dapperrerige Daniëltjie steeds daar was twee manne onkant. (Hokaai nou, kom ons maak nie soos te veel van leiers en amptenare wat altoos die fout by die “ref” gaan soek nie.) En toe – kablam! – die tweede stukkie weerlig. Vier minute in beseringstyd in blits die bal 25 voet ver van David (Kily) Alvarez se voet af ’n tweede keer in die Leeus van Teranga se net. Met so ’n miaautjie van ’n huiskat is dit huis toe met die manne waaroor daar so gejil is. Dit nadat die Koperkoeëls van buurland Zambië hul klaar gewys het hul maanhaar is so ’n bietjie groter as hul brul. Viva, viva, viva. Yes, yes, yes. Jou doring, mompel die uwe na middernag binnensmonds in die voorhuis. Die res van die huis is al in die kooi. Wat ’n les. Nie net in sokker nie. In die lewe, leer, politiek, feitlik enigiets waaraan ’n mens kan dink. As die spannetjie met die kleinste kans in die toernooi, 41ste op die Afrikaranglys en 151ste in die węreld, ’n land kan wen wat onderskeidelik vyfde en 43ste op CAF en Fifa se lyste lę, is enigiets onder die son moontlik? Wat kan onse Brave Warriors nie vermag met sy beter 32ste op die vasteland en 122ste in die węreld nie. En ons praat nie net voetbol nie... Sommer ook rugby. En al wat ’n ander ding is. As die leereierkęrels besig is om ’n plan soos die Guineërs s’n te maak, moet ’n mens dalk maar vir ’n rukkie eers die lankmoedigheid van ’n welwitschia beoefen? Andersyds kan die hart nie kleinkry dat ons dalk vanjaar sonder Vodacom-rugby sal moet klaarkom nie. Die eerste, belangrike voorbereidings vir 2015 se Węreldbeker. Die Leeus se base het lyk my nog nie vir “Coach” Traore gepos nie. Bloot ’n kwessie van tyd? Glo nie die ou en ondersteuners sal ’n betogery soos Rehoboth se Pietertjie op tou sit nie. Politieke korrektheid, “due process” en Swapo se ewige binnegevegte daargelaat, reken ou Dapper daar sit in hierdie land baaaie ander burgemeesters wat lankal ook al summier die trekpas kon gekry het. Is tyd om soos die Bliksemstrale die ronde bol hier onder onse voete te laat rol. ’n Nuwe jaar is immers ideaal vir ’n nuwe begin. Die Premier se rasery met die laatkommers is ’n goeie teken, maar ongelukkig laat byna 22 jaar se ondervinding mens maar wonder of hierdie nie maar blote mooi broodjies is nie. Praatjies vul geen gaatjies nie. Dalk kan ons meer kenners soos Guinee se Brasiliaan, Gilson Paulo, kry om ons te help om meer doele teen misdaad, werkloosheid, armoede en al die ander pyne in die span se mondering te skop? Hulle was juis nie bang om buitelanders wat hul liefde vir die land bewys het, in te kry in hul stryd om dié sokkerkoppie nie. Ou, ou voetbolraad: Los die beheptheid met eie ego, die kul- en ontduikkunsies, die teatrale rondrol op die grond en al die ander onbetaamlikhede. Is eenvoudig – speel saam. En laat die bol die werk doen... |