|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
3.09.2010 Trooswoorde op klaagliedere oor ’n seenaweek
MY liewe Oom Gawie,
Toe loop ons mekaar mis in ’n gemaakte langnaweek by die see. Wat ek wel aflei, is dat oom ná al die jare ook die truuk met ’n Donderdag as openbare vakansiedag onder die knie gekry het. Dis nou om ’n enkele dag verlof aan te vra vir die Vrydag. Dan rek die naweek van die Donderdag tot die Sondag. Eintlik die Woensdag al. Vele gevalle is bekend waar werkers bakhand kom staan om ook die Woensdagmiddag af te kry. Dis nou sonder om verlof te vra. Sommer so ’n halfdag pasella. Want as daar die Donderdag, Vrydag, Saterdag en Sondag padgevat gaan word, moet daar behoorlik gepak word, veral as dit ’n kamperasie gaan wees. ’n Man kan mos nie ’n openbare vakansiedag of ’n verlofdag vir ’n pakkery gebruik nie. Die kansvattery het mos taamlik klein- tjies gekry sedert die dae toe ons nog vir die Administrasie vir Blankes gewerk het. Destyds het dit oor Saterdagoggende gegaan. Toe was dit nog vyf en ’n halfdag per week sal jy werk en jou “pay” sal jy om middernag van die laaste werksdag van die maand kry. Toe gebruik ’n dese en ’n gene die halwe Saterdagoggend om hul hare te laat kap en om doktersafsprake na te kom. Daarmee had die owerheid vrede, maar toe die gewoontetjie te erg raak, toe sê die “sekretaris van die Administrasie van Suidwes-Afrika” die verminkte halwe werksdag van ’n Saterdagoggend is nou nie meer ’n verpligte werksessie nie. Toe word die werksweek vyf dae – van Maandag tot Vrydag. Die gier het vinnig na die private sektor oorgewaai. Maar toe kom die werkersklas weer met ’n nuwe plan. Die middae van Vrydae sal nou vir die haarkappery, doktersafsprake en nog wat gebruik word. Hul Saterdag mog nie aangetas word nie. Teen laasgenoemde plannetjies is werkgewers nou in ’n nuwe worstelstryd. Innegevalle. Oom het geskryf van die goedjies wat oom hier by die see gepla het. Oom en oom se mense wou toe self Saterdag ’n bietjie doer by die noordsee gaan ingooi. Maar die plan was mos om by die Visfeestent aan te ry vir twee pannekoeke. Vir Hentiesbaai is oom mos lankal nie kwaad nie. Maar toe wil hulle oom N$90 by die hek stamp om in te kom sodat jou eie spoor weer daar in die vallei kan lê. Argumente dat oom vir die negentig dollar ook die aand na Die Broers kon luister of vir Kloeksie Woeksie met die aanwysing van Mej. Visfees kon sien, gaan nie af nie. Aand se tyd sing oom mos sommer self en ta’ Mina is mos die appel van oom se oog. By dié appel word nie verby gekyk nie. Daar is ’n plan. Volgende keer word ’n feesdwaler sommer daar deur die heining ’n geldjie in die hand gestop om twee koeke vars uit die pan te gaan aanskaf. Die hy of sy kan dit dan sommer so deur die heining aangee. Dis ook nie nuus dat die visskottel so droog soos ’n horing terug van die see gekom het nie. Twee dae voor die Visfees het destydse spietkop Fanie en skoon- seun Henri mos al die goed skrikgemaak met die kabeljou van 25 kg wat daar by Myl 30 op die sand gesleep is. Henri het gevang en Fanie het die ou grote die verkeerstekens strand toe gegee soos hy deur die jare met Swakop se karre gemaak het. Oom kla oor ’n Swakop sonder ’n parkeerplekkie. Ook dit is nie nuut nie. Ons hoor al lankal die storie van ’n oplossing, maar niks gebeur nie. Dis soos met die swembad en die toilethuisies. ’n Wonderlike swembad kom, maar niemand sê wanneer nie. Ek is jammer om te hoor dat die nood oom tot by die toilethuisie doer oorkant die jettie ingedruk het. Dis nie goed met net ’n klad op die klam vloere nie, maar ook op Swakopmund se naam. Dis mos om van te sies. Oom kla nie oor die weer nie. Kom die misbanke met hul koue oor die baai, kan ’n man mos ’n OB’tjie of kruiewyn skink. Dit is goed om te hoor oom en oom se mense is veilig tuis. Dis nogal ’n prestasie tussen al die lorries en al die versperrings doer annerkant Wilhelmstal deur. Daarvoor is daar geen troos nie. Die manne wat paaie ken, sê dit gaan nog erger raak. Sien oom-hulle weer wanneer die Desemberson soos ’n vuurbal in die see gaan val. As ek nie weer voor die storm uit die binneland gaan wyk nie. Simon. |