
Estelle de Bruyn
MÔRE is dit weer sulke tyd! Meatco se Media-braaikompetisie vir 2008 skop af en Republikein se span sal oudergewoonte daar wees. Altesaam 14 media-braaispanne sal dié keer aantree en hul plekke agter die braaivleisvure inneem om mekaar die styd aan te sê.
Die ander spanne kom van The Namibian, Namibia Economist, New Era, Southern Times, Nampa, Setswana-NBC, TV Programme van die NBC, NBC Nasionale Radio, One Africa TV, Agri-Forum, Namibian Sun, Consumer News en Family Life Magazine. Ons sit koppe bymekaar en wonder met watter verrassings Meatco dié keer vorendag gaan kom en watter vleissnitte hulle vir ons gaan gee om voor te berei.
Ons het in die verlede al beesrib en skaapharsings en lendeskyf gekry om te braai. Maar dié keer swyg die organiseerders en sal ons maar moet wag en sien wat in die verrassingspakkie is wat hulle vir ons gee. Die bykosse is ‘n verdere kopseer, want al wat ons mag saamneem is speserye en kruie.
Die res verskaf hulle. Wat gaan dit dié keer wees? Ons het al omahere en patats, grondboontjies en ek weet nie wat nog nie gekry nie. Maak nie saak wat hulle dié keer in die mandjie sit nie, met dit wat daar is, moet ons ‘n smullekker ete vir die beoordelaars voorsit. O ja, die beoordelaars.
Die wonderlike supersjefs wat ons almal bewonder: Sanet Prinsloo, Mark Heller en Jonathan Gallagher. Dierbare mense, maar wanneer hulle met hul knypborde en penne tussen die stalletjies rondstap met uitdrukkinglose gesigte, wanneer hulle nie ‘n spier vertrek om te wys of hulle van die smake wat hul proe hou of nie hou nie, bewe ‘n mens se broek nogal.
Hoe berei ‘n mens tog voor vir so ‘n kompetisie? Lees jy resepteboeke voor jy saans gaan slaap of kyk jy 24 uur ‘n dag na die koskanale op DStv? Maak nie saak wat jy doen ter voorbereiding nie, as ons môre daar by Meatco onder die afdakke aantree, bring jy die baie of min vaardighede waaroor jy self beskik na die tafel. In my geval is dit beslis die min vaardighede.
Ek maak my slaai net op een manier vir jare al, want dit werk en dit lyk vir my mooi, maar ai, vir so ‘n braaikompetisie kan ‘n mens mos nie elke keer dieselfde slaai maak nie. Die beoordelaars soek inisiatief en daarvan het ek maar min. By een van die kompetisies waar ons Republikein-spannetjie deelgeneem het, het ek ‘n potbrood gebak.
Om eerlik te wees, ek het die bestanddele gemeng en vernuftige Christo het dit in ‘n swartpot op die vuur perfek gebak. Omdat dit die heel eerste keer in my lewe was dat ek so iets probeer het, het ek glad nie geweet hoe lank die ding moet bak nie. Met die uitgooi uit die pot sien ons die onderkant het so effe aangebrand. Ek maak so ewe verskoning by die beoordelaars.
Die een gawe beoordelaar vertel toe van die pasgetroude vroutjie wat wonderlik gekook het. Saans na haar man sy magie trommeldik geëet het, het hy elke keer gesê: “Dit proe nie soos my ma se kos nie.” Diep teleurgesteld het vroulief die volgende dag maar weer probeer om manlief tevrede te stel. Maar telkens moes sy hoor dit proe nie soos sy ma se kos nie.
Een dag het sy net genoeg gehad en verbrand sommer die pampoen en die vleis en sit dit nukkerig voor haar man neer. Toe hy klaar geëet het, sê hy: “Dít proe soos my ma se kos!” Nou ja, hou tog asseblief styf duim vas vir ons. Ons het dit nodig wanneer ons môre ons sjefhoede opsit en ons sjefbaadjies aantrek vir die Meatco Mediabraaikompetisie.