
Des Erasmus
DOERIE jare praat die boere van spookpiepie. Die woordgebruik was eintlik ’n bietjie krasser. Maar toe maar. ‘n Sagter aanslag het van die kontrei se vroue gekom. Hulle praat van spookasem. Spook of piepie, die gemeenskaplike onderwerp was petrol. En nou is dit weer sulke tyd. Word daar gery, word daar meer op die naald van die petroltenk gekyk as op die wyster wat die snelheid aandui.
Hoe hoër die spoedmeter styg, hoe vinniger daal die een wat die spook se goed wys. In die proses het ‘n diskriminerende brandstofbesparingsveldtog reeds ingetree. Nie dat brandstof skaars geword het nie. Die pompe is vol. Dis so duur dat feitlik nog net die rykes kan ry soos hulle wil.
Jy kan die spookasem kry, maar dan moet jy betaal. Die koeponstelsel was een van die eerste wyses waarop mense gedwing was om minder te ry. Die plaaslike landdros was die man wat bepaal het hoeveel koepons jy per maand vir jou vuurwa se tenk mog kry. Die dorp se Von Helsdingen (ek weet nie waarvandaan die von en die -sdingen gekom het nie) was ‘n snoep kêrel.
Jou gasie is feitlik tot op die noodsaaklikste druppel gemeet. Is al die koepons teen die middel van die maand in die pomp se keel af, is dit jammer. Dan loop jy maar. Die einste landdros had die reg tot vergunnings. Spesiale uitreikings kon vir noodgevalle oorweeg word, maar dan moes dit nood wees.
Sterfgevalle het as oorweging gewig gedra, maar dan moes dit naastemense wees. Skoonmoeders was nie genoeg nie. Ketai was die buurt se bekendste petroljoggie. By die pomp het hy die petrolgorrel feitlik soos ‘n waslap uitgedraai om die laaste taai druppels in die tenk te kry. Koepons het gewerk, maar het ook tot ander sondes gelei.
Die klompie motoreienaars wat hul voete van die brandstofpedaal kon hou, had immer ‘n koepon of twee in hul beursies. Dit kon teen ‘n verhewe prys gekoop, geruil of versmous word, hoewel ou Hel(sdingen) en sy wette nie daarvan gehou het nie. Word jy betrap, word daar nie in die howe gespeel nie.
Dis waaruit al die vreemde noemname vir petrol op die plaaslyne gespruit het, want bure met kwaaivriendskappe en die dorp se telefoonsentrale kon meeluister en gaan oorvertel. Nog ‘n besparingsmaatreël was die stadigryery. Snelperke van tot so min as 80 km/h is ingestel en vir spietkops was dit pure pret en plesier.
Vir elke tien kilometer oor die snelperk het nuwe boeteklousules ingetree. Word jy gevang vir meer as 120 km/h is daar nie meer sulke goed soos afkoopboetes nie. Jy sal in die hof gaan staan en die edelagbare in hoofletters aanspreek. Nog een was dat die brandstofstasies Vrydae om vyfuur in die middae sou sluit en dan weer eers Maandag om sewe- of agtuur die pompe sou oopsluit.
Kom Vrydae is daar ‘n stormloop pompe toe en vorm lang rye motors soos voor die ou dae se veldflieke. Of jy nou nog in die ry is of nie, om vyfuur sluit daai pomp se kleppe. Dié een het ook sy sondes en gevare gebaar. Menige naweekganger had feitlik net ‘n kam en ‘n tandeborsel vir elkeen in die bagasie.
Die res van die spasie word deur brandstofkanne ingeneem wat tot aan die drumpel vol petrol staan. Eintlik het dit van motors brandstofbomme gemaak. Kom daar ‘n botsing met ‘n vonk was dit ‘n smês. In die prosesse is trapfietse, ryperde en selfs donkies weer in ere herstel.
Nog ‘n oorweging was om eerder voet te slaan. Op die gebied van die gewone man se geldsake is dit nou weer ‘n oorweging. Pas op, dalk kom dit weer. Tog is daar ‘n troos. Dis nie so sleg as ‘n mens eers in die stryd is nie. Of is ons al?