|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang Kollig 9 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Videonuus Die onkruid waai op Nkurenkuru Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
20.08.2010 Spinnerakke wyk voor beelde van ou meesters
DAAI jare se fotograwe was nie sommer so se hierjy’s nie. Dink weer aan ons samesyn in nou die dag se gesprek met ’n noi wat met die hedendaagse digitale goed toor. Wonderlik! Maar ek sê ek weet van beter. Bedoelende die jare van spoelfilms, vergete se kameras en ’n mooi stuk lewe wat met koerantfotograwe gedeel is. Sy knik. Sy stem saam.
Met desedae se kameras en selfs selfone kan Jan Rap ook foto’s neem, sê sy. Lang jare gelede was dit anders. Dit was lensopeninge en afstandskattings, ’n tydrowende gefokus, ligmeters en driepote as hulpmiddels. Lang- en wyehoeklense. Gewoonlik was dit in swart en wit. Kleur het eers later posgevat. Daarna is in uitgerekte prosesse donkerkamers toe gestap. Met elke skoot het die goed geklap. Hard genoeg om Etosha se olifante te laat skrik. Hol Poppie, hol! Lank gelede se koerantmanne het ook ’n dosis fotografie ingekry, al was dit net vir die wis en die onwis. In dieselfde sin het koerantfotograwe ook so ’n bietjie aan hul nuussin geslyp. Ook vir die wis en die onwis. Grondlangs en luglangs is saam met Derek na ’n handvol lande van Afrika gery en gewip. Deel van sy bagasie was ’n spesiale sakkie. Dit was sy bonsaitoerusting vir ’n donkerkamer in die vreemde. Net ’n bietjie van die broodnodigste vir die ontwikkeling van ’n film en wat daarmee saamgegaan het. Sommer hier op die Namibiese drumpel kom ’n noodsituasie in Lusaka. ’n Paar filmspoele moet ontwikkel word. Buite gloei die straatligte en ’n volmaan skyn oor die Afrika-velde. Anders as myne is sy gestalte ’n maakpas vir ’n klerekas wat bruikloos in ons tydelike blyplek staan. Hy ken sy vat in die donker, maar dan mog geen ligskrefie deurkom nie. ’n Grys kombers met wit strepe oor op een van ons se kooie sou alle lig van buite uitskakel. So staan en hou ek die kombers toe styf oor die kas vir wat vir my na ure gevoel het. Die volgende dag het die oes op die lughawe ingekom toe ons stroke film redaksie toe op ’n vliegtuig kon laai. Koerantfotograwe het vir niks teruggedeins nie. Een van die groot vloede is kilometer vir kilometer vanaf Upington tot by Noordoewer gevolg. Sulke tye het Frans gaan help waar huise ontruim moes word. Foto’s het hy lankal genoeg. Met ’n pop onder die een blad en klein Katryn se wiegie in die ander hand het hy die droë oewer gehaal om net weer en weer te gaan help. Hulle het hulle ook nie deur gevaar laat stuit nie. Laas wat ek van Willem gehoor het, was hy nog by die NBC se TV-ouens. As koerantfotograaf was ons saam toe die sondvloed se kleinboet die treinspoor in die Suide voor hom weggevee het. Doer in Asab se kontrei kry ons toe ’n trein op ’n eiland in die dorsland. Voor hom en agter hom was die spoor weg. Rondom die verloopte gevaarte was net water, plekplek diep water. Toe strip Willem tot op sy onderbroek en loop borsdiepte deur ’n waterdam om by die lokomotief te kom. Sy arms was omhoog soos die dag toe die Israeliete Moses s’n moes stut. In daai hande was sy kamera en films. Pure mens dié. Terug by die bakkietjie was sy eerste vertelling nie oor sy foto’s nie. “Die drywer sê hy wil huis toe gaan,” sê Willem. Frans was op sy beurt op ’n huurvliegtuig om die eerste ooptrek van die Hardap se sluise met lugfoto’s te verewig. Toe land hy terug in Windhoek net om tot sy verbystering vas te stel hy het nie sy kamera met ’n film gelaai nie. Toe vlieg Frans maar weer en stel sy fout reg deur self vir die tweede trippie te betaal. Stel jou voor dit sou vandag weer gebeur. Kleurskyfies was groot pret. Klein projektortjies is gekoop. ’n Voorgeslag se portrette in ovaalrame is van die wit mure gehaal om die wand as doek te laat dien. Want op ’n Vrydagaand was daar ’n kleurskyfievertoning met eie mense as die hoofkarakters in die tuisfliek. Van die skyfienemers het byderwets geraak en musiek en klank op bandopnemers bygesit. Langspeelplate met springplekke vir die naald waar die Namibiese son die goed bygekom het. Die ou wat die skyfies laat aandraai het, moes net sy byhou by die klankbaan ken. Toe vra die noi met haar foto’s wat kyk ek so. My oë het gefokus gebly op ’n roofvoëlbeeld van metaal op ’n ronde tafeltjie op ’n grasperk. Maar in die blik was ontvlugting na beter dae toe foto’s nog foto’s was. Die tog na lank gelede was met ’n vaart soos die van ’n wildehond wat daar teen haar muurwand hang. “Sal ons ou kennisse …” |