Reismiere dwing my buite Namibië se grense

Ek kan nie van hierdie reismiere in my lyf ontslae raak nie. As ek ?n ryk vrou was, sou ek om die wêreld gereis het.

Ek wil my voetspore in elke liewe land agterlaat en hope herinneringe in my tas pak. Ek wil elke liewe dans van elke kultuur leer dans. Ek wil elke krieseltjie kossoort proe, elke spesery en krui eien. Ek wil van alle maniere van vervoer gebruik maak - van trem tot trein.

My ma sê sy weet nie uit watter eier ek uitgebroei het nie, want ek het nie in ?n huis grootgeword waar reis hoog op die prioriteitslys was nie. Ons het nie eens Desembervakansies by die see gaan vakansie hou nie. My ouers was beesboere en die koeie het in Desember gekalf. Wat as ?n kalf in die put beland?

As ek my ouers laat weet dat ek op ?n oorsese reis gaan, is hulle nie so verheug soos ek nie. Hulle is net oor my veiligheid bekommerd.

Die eerste keer toe ek oorsee is, moes ek my pa bel nadat ek met die veerboot van Dover na Calais gevaar het.

?Nee my kind, daar is te veel veerbote wat sink,? het hy gesê. Al wat my pa van die land wil weet waarheen ek nou gaan, is of daar oorlog in daardie land is.

Al wat my ma oor Turkye te sê gehad het, is ?jy moet oppas, daardie mans ontvoer blonde vroue?.

My ma sal my nooit vergewe vir al die vlugte wat ek van Johannesburg na Windhoek verpas het nie. My pa sal nooit vergeet van die keer toe hy my lughawe toe vat en sy motor op die hoofweg onklaar geraak het nie. Ek moes met my tas duimgooi lughawe toe. Vir my pa was dit vreesaanjaend, vir my was dit opwindend.

My ouers is ook nie vreeslik geïnteresseerd in my reisverhale nie en hulle raak gou verveeld om na al die foto?s van my omswerwinge te kyk. My ma was egter verlede jaar baie dankbaar oor die lekker koffie uit Ethiopië, maar sy het haar neus vir ?n lang tradisionele bloes, ?n punjabi uit Indië, opgetrek.

?Kyk, dis nie eens ordentlik aan die binnekant omgesoom nie.?

Ek weet egter dat dit altyd haar groot droom was om in ?n lugballon te vlieg.

Vandeesweek hou ek weer my lyf ryk vrou as ek in vyfsterhotelle in Ankara en Istanboel sal tuisgaan. Ek gaan sterk Turkse koffie en tee, chai, rooi papawerstroop en die tradisionele anysdrank, raki, drink. Ek gaan döner, kebab en regte, egte ?Turkish delight? ofte wel lokum, eet.

Ek gaan beleef hoe die Bosporusrivier in Istanboel Europa in oos en wes verdeel. Ek gaan vir die eerste keer in my lewe met ?n trem ry. Ek sien die meeste daarna uit om in ?n hamam, ?n Turkse bad, te ontspan. Dalk kan ek die polsende ritme van ?n energieke Turkse dans ervaar. Ek wil vir my ?n leerhandsak en sandale koop.

Ek wil ook voel hoe voel hul olyfroom op my gesig. Dalk verloor ek ?n plooi of twee. My tas is lig gepak, die Turkse visum is in my paspoort geplak, my kamera se batterye is gelaai en daar is ?n paar (te min) Amerikaanse dollar in my beursie.

Ons is ?n paar Namibiese joernaliste wat saam met altesaam 55 joernaliste uit Afrika die Turkye- Afrika-mediaforum gaan bywoon. Al gaan my reise meestal met werk gepaard, is dit altyd ?n avontuur. My reismiere sal nooit ophou kriewel nie.

Kategorie: