17.5.2012
 Argiewe:

Vandag se koerant


Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


16 Mei 2012

SUPERMAAN


30 Bruidspare gekies


Suiderland 15 Mei

Kollig 10 Mei

Die Weer


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

7.02.2012

Pakkies karwei en saamrygeleenthede is eie aan ons mense


Francoise Steynberg
NAMIBIëRS het die gewoonte om altyd pakkies, klein of groot, saam met mense te wil stuur. Daar word altyd versoeke, of dit nou op die radio of op Facebook is, uitgestuur om ’n pakkie of ’n persoon of selfs ’n dier saam te karwei. Daar is spesiale radioprogramme in Namibië vir versoeke vir saamrygeleenthede. “Piet soek ’n geleentheid vanaf Kalkrand na Walvisbaai vir die naweek. Het min bagasie en sal help om brandstof te betaal. Jan soek ’n geleentheid vanaf Otavi tot Karasburg,” maar Jan rep nie ’n woord oor enige geldelike bydrae nie.

Verlede jaar het ek alleen Oranjemund toe gery en op pad terug toe ek by Aus se mooi berge trek, bel ’n vriend en vra of ek ’n pakkie op Keetmanshoop kan optel. Geen probleem nie, want al wat in die kattebak is, is my reissak, skootrekenaar en kamerasak. Die probleem begin toe die afsender van die pakkie my nie by die Engen-vulstasie buite Keetmanshoop wil ontmoet nie, maar op die dorp.

Dit kos my twee stoppe, want ek moet vir koffie by Wimpy stop om op die langpad wakker te kan bly. ’n Duisend kilometer is nie min myle om alleen te ry nie. Ek stem maar in om hom op die dorp te ontmoet, want ek koester die noue vriendskapsbande met my vriend en sy vrou én ek skuld hulle. Hul familie het vir my drie groot bokse van my ma van Lambertsbaai af gebring, drie bokse met van my kosbaarste besittings wat met die skip van Taiwan gekom het. My kakebeen het onwillekeurig oopgeval toe die sender die “pakkie” in die kattebak laai. Dit pakkie is ’n groot kluis in planke.

Die kluis was in ’n kas ingebou en moes met planke en al uit die kas uit. Dis ’n lang storie, vertel my vriend my later toe ek die pakkie in Windhoek aflewer. Een deel van die familie betwis glo die testament van ’n oorledene. Hulle glo daar is ’n ander testament in die kluis en die ander deel van die familie wou nie die sleutel van die kluis gee nie. Die kluis moes toe Windhoek toe sodat ’n slotmaker dit kan oopmaak. Ek het gedog die kluis is die vreemdste pakkie ooit, maar wat wou. Ek het geskater van die lag toe ek op Facebook lees dat iemand ’n geleentheid vra vir ’n tuimeldroër vanaf Swakopmund na Windhoek. ’n Vriendin wat op Oranjemund gebly het, vertel weer ’n storie van ’n ander tipe pakkie.

Elke keer as hulle Springbok toe gaan, moes hulle vir die hele Oranjemund Kentucky saambring. Ek kan my net indink hoe jou motor moet ruik na ’n lang pad met ’n klomp emmers van die Kolonel se sappigste hoender. My tante Adie het tot onlangs in ’n slaghuis op Swakopmund gewerk. As sy hoor iemand is op pad Weskus toe, stuur sy ’n pakkie biltong vir my ma.

Ek het al gewonder hoe biltong saam met vreemdes uiteindelik veilig by my ma aankom. Klein dorpies het nie dieselfde winkels as die stad nie en haarprodukte van ’n spesifieke winkel is glo ’n gewilde versoek van vroue van die landelike gebiede. Nog ’n ding waaraan ek my verwonder, is die plastiekkanne vol water wat met minibustaxi’s na die Noorde gekarwei word. En as die mense uit die Noorde by die see gaan vakansie hou, neem hulle ook altyd ’n bottel vol seewater terug huis toe. Een keer op pad Gochas toe om te gaan jag, moes ons eers ’n enjinonderdeel op Mariental gaan optel en ink vir ’n drukker by Auob Lodge op Gochas afgee.

Dit doen ons met liefde vir ons lieflike Kalahari-vriende. In my studentedae het ek baie saam met vreemde studente ’n geleentheid huis toe gekry. Onlangs moes ek saam met die stoutste, luidste kinders ry. Nooit weer nie! Ek het gedog ek spring in die ry uit die voertuig en gooi liewer duim. ’n Vriend in die boubedryf het ’n versoek van ’n vrou vir ’n saamrygeleentheid vanaf Okahandja tot by Hentiesbaai gekry. “Oom, dis net ek en my twee seuns en my oupa en my ouma. Ek is bereid om op iemand se skoot sit.”