Net met my tandvleis uit dié noue ontkoming ontsnap

Die tandarts is darem nie die laksman nie. My grootouers het vanmelewe graag gesê iemand lieg soos ?n tandetrekker. Ek was vyf toe ek die eerste maal uitvind hoekom sê mense so en sedertdien het die vrees my bygebly. Jare later is daardie eerste wrede ou tandarts al oorlede, maar die vrees het gebly, al is die nuwe tandarts eintlik baie gaaf. Toe ek nou die ander dag die laaste ry gesneuwelde tande gelyk moes gaan prysgee, was ek weer in my gemoed ?n vyfjarige. Sy is ?n klein mollige vroutjie, vrolik en vol selfvertroue (dis nou nie ek nie, maar wel die tandarts). Ek is een groot bang, bewende jellie van kop tot toon. Die vorige week het sy reeds die hele proses aan my verduidelik, nadat sy die probleemtande deeglik betrag en my uitkoms versigtig oorweeg het.

Tog is daar nie juis veel wat gedoen kan word om ?n mens sielkundig op tandetrekkery voor te berei nie. As jy daarbenewens nog ?n bangbroek soos ek is, des te minder die nut van voorbereiding. Die oomblik toe ek my oë toemaak in afwagting op die inspuitings spring die beeld van daardie eerste tandarts terug in my geheue. Vir my as vyfjarige was hy ?n kwelgees van demoniese omvang ? as ek dan nou tot sy nagedagtenis vir ?n oomblik mag oordryf. Nadat sy my die tweede van vyf inspuiting toegedien het, kon ek die ander nie eens meer voel nie, dus was die eina van die hele proses maar kortstondig.

Geen verdere pynvolle gebeurtenis het daardie volgende veertig minute by die tandarts plaasgevind nie. Dit was net die druk, trek en skeurgeluide wat natuurlik sy tol in my gemoed geëis het. Alles was betreklik vinnig verby en die nuwe kunsgebit met pragtige wit tandjies is bo-op die verdoofde wonde staangemaak.

Die noodsaaklikheid hiervan het sy deeglik aan my verduidelik en my ook probeer voorberei daarop dat die pyn oor ?n uur saam met die lewe sal terugkom en dat ek dan reeds die nodige pynpil in my liggaam gereed moet hê. Die volgende klompie ure daarna was ek natuurlik op my eie met die lewende pyn wat vroeër ingetree het en wat sommer reeds hier in die verkeer, voor die apteker se deur, al trommelend in my skedel begin weergalm het. Daardie nag het ek vir my twee keer regop geskrik as een of die ander van die gaatjies in die tandvleis met ?n eiesoortige flitspyn sy teenwoordigheid aangekondig het. Ag, maar noudat ek sien ek het dit oorleef, begin die dinge in my geheue ook verdof.

Ek is vreeslik verlig, maar kan nie wag dat die wonde genoegsaam herstel dat ek weer vaste voedsel kan begin inneem nie, want nou verbeel ek my weer ek vergaan van die honger. Jammer dat ?n mens soms so laat besef dat alle tandartse nie aan die laksman verwant is nie.

Kategorie: